96ste Wêreldbiddag vir vroue
2026 se tema – ‘Kom, Ek sal jou rus gee’.
Wêreldbiddag vir Vroue word vanjaar op 6 Maart 2026 gehou. Die Wêreldbiddag vir Vroue is ‘n wêreldwye ekumeniese beweging van Christenvroue, -mans en -kinders van verskillende lande wat elke jaar op die eerste Vrydag in Maart vergader om ‘n besondere dag van gebed te vier. Tydens die Wêreldbiddag vergader gelowiges van verskillende rasse, kulture en kerke, om saam te bid, ons voor God te verootmoedig en vir mekaar in te tree. Internasionaal word die Wêreldbiddag reeds vanaf 1887 gevier. Die dag word tans in meer as 170 lande op al 7 kontinente gehou. In Suid-Afrika is dit die 96ste jaar wat ons deel is hiervan. Die program word in nege van die amptelike tale vertaal.
Dit bly ’n besondere voorreg om te weet dat vroue regoor die wêreld, in verskillende lande op hierdie dag in gebed rondom ’n gemeenskaplike tema verenig word.
Nigerië – 2026 se gasheerland
Hierdie jaar se tema is ontwikkel deur die vroue van Nigerië en vertel die verhaal van vroue wie se daaglikse lewens gekenmerk word deur swaar arbeid, lang paaie en groot verantwoordelikhede – vir hul gesinne, hul gemeenskappe en hul oorlewing. Al kom hulle uit verskillende kulture en etniese groepe, word hulle verenig deur gedeelde fisiese, emosionele en geestelike laste.
Vanjaar se tema bring troos in ‘n tyd waarin mense wêreldwyd onder swaar laste gebuk gaan. Dis ook ’n boodskap van hoop: in Christus word moegheid en swaarkry na Hom gebring, en in gemeenskap met mekaar word rus, krag en nuwe moed gevind.
Besoek gerus die webblad om meer te lees oor ons gasheerland.
Programme en aandenkings is beskikbaar en kan elektronies bestel word. Bestellings moet voor 13 Februarie 2026 geplaas word.
‘n Kort riglyn is saamgestel wat gemeentes ondersteun om ‘n geleentheid vir Wêreldbiddag vir vroue plaaslik aan te bied.