Wanneer ‘n kind hoop kies | CMR Gauteng-Oos en ’n storie van hoop

Wanneer ’n kind hoop kies

* Tshepiso was nog klein toe sy reeds geleer het dat veiligheid nie altyd permanent is nie.

Ná haar ma se dood het sy by haar tannie gaan woon. Tshepiso het nooit haar pa geken nie. Alhoewel haar tannie hard probeer het om vir haar te sorg, was haar lewe gevul met onsekerheid. Daar was dae van rus en vrede, gevolg deur dae van spanning en hartseer. Dit het Tshepiso dikwels laat wonder of sy ooit werklik êrens sou behoort.

Later het sy by haar suster en haar suster se kêrel gaan woon. Aanvanklik het dit soos ’n nuwe begin gevoel, maar die huis het stadig verander in ’n plek van konflik, gekenmerk deur geskreeu, bakleiery en geweld. Tshepiso moes toekyk hoe haar suster mishandel word, en, al het sy min daaroor gepraat, het die trauma diep binne haar begin wortelskiet en stelselmatig die hoop in haar begin afbreek.

By die skool het sy uitgeblink as een van die topleerders. Tshepiso het daarvan gedroom om eendag ’n dokter te word. Die spanning by die huis het egter sy tol geëis en haar konsentrasievermoë negatief beïnvloed. Die vrees waarmee sy daagliks geleef het, het haar selfvertroue ook stelselmatig afgebreek.

Toe sy Graad 10 druip, het sy begin glo dat sy nie meer slim genoeg was om haar drome te bereik nie. As tiener het sy nie besef dat trauma ’n mens se gees só kan uitput nie.

Een aand het haar lewe egter verander.

Nadat sy van ’n skoolleierskapkamp teruggekeer het, het haar suster se kêrel haar uit die huis gejaag. Sy het buite, agter die huis, gestaan: bang, verneder en sonder ’n plek om te slaap.

Met bewende hande het sy haar maatskaplike werker wat by CMR Gauteng-Oos werksaam was, gebel.

Dit was ’n Sondagaand. Ten spyte daarvan het die maatskaplike werker dadelik gekom. Vir Tshepiso was dit meer as net hulp. Dit was die eerste keer in ’n lang tyd dat sy gevoel het iemand sien haar raak. Iemand het besluit sy is belangrik genoeg om haar te kom haal.

Daardie aand het ’n saadjie van hoop weer in haar binneste begin groei.

Tshepiso het teruggegaan na haar tannie toe.

Maar belangriker nog – sy het besluit dat haar omstandighede nie haar toekoms sou bepaal nie. Ten spyte van alles het sy gekies om aan hoop vas te hou. Sy het Graad 10 herhaal en harder as ooit tevore gewerk. Dit het daartoe gelei dat sy in 2020 matriek voltooi het as die topleerder in haar skool.

Daardie prestasie het haar daaraan herinner dat sy steeds sterk, intelligent en vol potensiaal was.

Later het nog ’n maatskaplike werker wat op daardie stadium by CMR Gauteng-Oos werksaam was, haar ondersteun en gehelp met registrasie aan die Universiteit van Johannesburg om verder te studeer. Tshepiso het maatskaplike werk gekies omdat sy geweet het hoe dit voel om verlore en onseker te wees. Sy wou die soort mens word wat kinders beskerm wanneer die wêreld hulle vergeet.

In 2025 het Tshepiso gegradueer.

Vandag werk sy by dieselfde organisasie, CMR Gauteng-Oos, wat haar as kind gehelp het. Elke dag gebruik sy haar eie verhaal om ander kinders moed te gee. Sy luister na hulle, beskerm hulle en herinner hulle daaraan dat hul pyn nie hul einde is nie.

Want Tshepiso het geleer dat dit dikwels die mense is wat die meeste seergekry het, wat ander help om die pad na genesing te vind, wanneer hulle kies om te bly hoop.

*Naam verander

Wanneer jy kies om te bly hoop, kan jy ander help om die pad na genesing te vind.

CMR Gauteng-Oos is een van die Oostelike Sinode se barmhartigheidsvennote.

Christine Shaw

CMR Gauteng Oos