Verfriskamp

🌿 Verfriskamp: Rus, Vernuwing en Gemeenskap

Die afgelope paar jaar het ons in die Sinodehuis sterker as ooit besef hoe kosbaar dit is dat diegene wat dag vir dag in ons kerkkantore en gemeentes dien, self ook kans kry om asem te skep, te herstel en nuwe krag te ontvang.

Die lewe vra soms dat ons net ’n bietjie stadiger stap, dat ons stil raak en onthou: ons is nie net hande wat werk en harte wat gee nie – ons is ook siele wat rus, water en lig nodig het.

Waarom die Verfriskamp?

Uit hierdie besef het die Verfriskamp ontstaan – gebore uit ’n eenvoudige maar diep oortuiging: wie self verfris, verryk en vertroetel word, kan met soveel meer vreugde en energie ander dien.

Ons het doelbewus drie woorde gekies as goue draad deur die hele kamp: Verfris. Verryk. Vertroetel.

Wat ons saam beleef het

En hoe mooi het dit nie waar geword nie!

  • Ons het saam asemgehaal, stil geword in die natuur en weer die sagte stem van God gehoor.

  • Praktiese sessies oor asemhaling het ons geleer hoe om deur ons eie asem tot rus te kom en nuwe energie te kry.

  • Ons kennis is verryk met insigte oor die rol van derm-“balagan” en die verrassende invloed van ’n gesonde dermflora op liggaam, emosies en selfs geloofsbelewing.
  • En natuurlik het ons lekker gelag en kreatief geword met ’n werkswinkel oor kolwyntjie-versiering.

Maar dit was nie net leer nie – dit was ook leef. Ons het maskers afgehaal, nuwe bande gevorm en vriendskappe gesmee. Selfs vir diegene wat alleen in ’n een-man kantoor werk, was dit ’n herinnering: jy is deel van ’n groter familie.

Dankie aan ons ondersteuners

’n Spesiale dankie aan ons ruimhartige donateurs wat die heerlikste verrassingspakkies moontlik gemaak het:

  • Willa Krause en haar dogter, ds. Liesl Krause Wiid

  • Die span by Uitkyk Skryfbehoeftes (admin@ustat.co.za)

  • Saretha Bothma van Globex Internet Services (info@globex.co.za)

  • Hein Venter van Bella Vista Parfuum (hein@bellavistaperfumes.co.za)

  • Skuilkrans Gemeente

  • Darius Oosthuizen (onder-voorsitter, Skuilkrans Gemeente)

En ons waardering aan die aanbieders en sprekers:

  • Sonnika NelMaskerloos

  • Prof. Jan VerschoorDuiwel in die derms-drama

  • Elsie TewitzKoekversiering

Dankie aan ons gemeentes

Dankie aan elke gemeente wat kantoorpersoneel die geleentheid gegun het om by die kamp aan te sluit. Julle was die pioniers van hierdie nuwe inisiatief.

Dis die eerste keer dat ons Sinode so ’n kamp aangebied het, en ons vertrou dat die waarde wat dit gebring het, sal help om hierdie geleentheid ook in die toekoms lewendig te hou.

Ons weet dat dit vir sommige gemeentes nie moontlik was om vanjaar deel te neem nie. Ons werk reeds daaraan om dit in die toekoms meer toeganklik te maak, sodat nog meer mense kan inskakel.

Dit is ons diep begeerte dat die Verfriskamp ’n bron van ondersteuning, rus en hoop sal bly vir almal wat so getrou in ons kantore en gemeentes dien.

Cathy Odendaal

Bedryfsbestuurder, Oostelike Sinode