Verfriskamp 2026: Herstel – Wanneer God weer nuut maak
Twaalf gemeentes se kerkkantoorpersoneel het vanjaar by Badplaas saamgetrek vir die Oostelike Sinode se tweede Verfriskamp. Onder die tema “Herstel – Wanneer God weer nuut maak” het deelnemers saam op ’n reis gegaan van refleksie, rus, vernuwing en nuwe perspektief.
Gedurende die kamp het ons stilgestaan by belangrike vrae wat elkeen van ons raak: Wie is ek werklik in God se oë? Hoe beïnvloed my gedagtes my identiteit en my daaglikse lewe? Watter impak het verhoudings op my hart en selfbeeld, en hoe stel ek gesonde grense? En hoe vind ek weer rus, vreugde en intimiteit in my verhouding met God wanneer dit voel asof dit winter in my geloofslewe geword het en God ver voel?
Veilige ruimte
Die kamp het ’n veilige ruimte geskep waar deelnemers hulself kon wees, sonder die druk om iets te presteer of reg te kry. Dit was ’n plek waar dames kon rus sonder skuldgevoelens, eerlik kon reflekteer, nuwe perspektief kon kry en opnuut hoop en krag kon vind in God se herstellende liefde.
Verskeie kreatiewe aktiwiteite het die temas verder verdiep en gehelp om die inhoud op ’n persoonlike vlak te beleef. Een van die hoogtepunte was die Kintsugi-aktiwiteit. Elke deelnemer het doelbewus ’n koppie gebreek en dit daarna weer aanmekaar gesit. Die krake is met goud versier, geïnspireer deur die Japannese kunsvorm Kintsugi.
Hierdie simboliese oefening het ons herinner dat breuke en seer deel van ons storie is, maar nie ons waarde bepaal nie. Inteendeel, deur God se genesing kan ons juis sterker, mooier en meer betekenisvol word. In plaas daarvan om ons krake weg te steek, kan ons dit sien as getuienisse van God se genade en herstel.
Nuwe vriendskapsbande is gevorm
Maar herstel het nie net in stilte gebeur nie. Nuwe vriendskappe en bande is gevorm. Ons het saam gehuil, baie saam gelag en opnuut besef dat die kuns van saam-lag iets is wat ons meer doelbewus moet uitleef. Tussen die gesprekke, stories en gedeelde ervarings het daar iets besonders gebeur: vreemdelinge het vriende geword en kollegas het medereisigers geword.
Die dames het huis toe gegaan met meer as net notas, herinneringe en kreatiewe kunswerke. Hulle het teruggekeer met die wete dat hulle nie alleen staan nie, maar deel is van ’n groter familie van kerkkantoorpersoneel wat mekaar verstaan, ondersteun en saam die pad van diens stap.
Dankie aan ons borge!
Ons opregte dank aan ons borge wat hierdie geleentheid moontlik gemaak het. Ons kon vir elke dame ‘n wonderlike bederfpakkie saamstel.
- Hannes van Rensburg (kontantbydrae)
- Kerksondermure Gemeente (kontantbydrae)
- Oosterlig Gemeente (kontantbydrae)
- Saretha Bothma van Globex (brownies)
- Willa Krause (serum)
- Francois Schwalb – ZZ2 (dadels en tamaties)
- Bella Vita (parfuum)
- Loutjie Meyer (geestelike boeke)
Dankie ook aan elke gemeente en kerkraad wat dit vir hul kerkkantoorpersoneel moontlik gemaak het om die kamp te kon bywoon. Dankie aan ons Uitvoerende Amptenaar, dr Johan Botha, wat ons ondersteun en toegelaat het om hierdie geleentheid te kon aanbied en laastens dankie aan Sonnika Nel, maatskaplike werker by Tygerpoort, wat die inhoud van die program saamgestel en ontwikkel het. Dit was aangrypend om te ervaar hoe God met elke vrou ‘n ontmoeting gehad het.
Ons is dankbaar vir elke deelnemer wat deel van hierdie besonderse tyd was en vertrou dat die saad wat gesaai is, nog lank vrug sal dra in die lewens van ons kerkkantooramptenare, hul gemeentes en die mense wat hulle daagliks dien.
“God gooi nie weg wat stukkend is nie.” 🌿