Veldpretkamp 2025

🌿Veldpretkamp 2025: Plante, pret en ’n boodskap wat wortel skiet

’n Ma het ná die Veldpretkamp 2025 met ’n “klag” gebel: haar seun maak haar mal!
Al wat ‘n moontlike indringerplant kan wees, moet uitgehaal en verbrand word!

Nog nooit was so ’n klag oor ’n kamp só welkom nie!
Vir die Ekologie taakspan was dit die mooiste bewys dat die boodskap van die kamp — wat hierdie jaar oor plante gehandel het — werklik wortel geskiet het.

Wanneer leer in die veld lewe kry

Op pad terug van die kamp het daardie selfde seun uit eie beweging die inligtingstuk oor indringerplante, wat aan die deelnemers uitgedeel is, begin lees. Hy het toe sommer langs die pad plante begin identifiseer!

Willem, ’n deelnemer wat al vir die derde keer saam was, kon sommer ’n hele paar bome uitken. Toe hy gevra is waar hy dit geleer het, het hy eenvoudig geantwoord:

Op vorige kampe.

🌾 ’n Kamp vol energie en geloof

Dertig kinders het vanjaar se kamp bygewoon.
Wat dit ekstra besonders gemaak het, was die bydrae van drie jong personeellede — JJ en Liané Pienaar en Delene Arnoldi — wie se vars energie en opregte betrokkenheid by die kinders baie waardevol was.

Die kampterrein, Berg en Rivier, is sentraal binne die Oostelike Sinode se gebied geleë en bied ’n unieke kombinasie van berge en rivier (Wilgerivier) — ’n ideale plek om jongmense aan God se skepping bloot te stel.

Hierdie was reeds die vyftiende Veldpretkamp, en soos altyd was dit geseënd.
Die terugvoer van die kinders sê alles:

     “Ek het meer van God geleer.”

     “Ek het geleer dat ons God se skepping moet bewaar.”

     “As ons nie mooi dink oor wat ons doen nie, doen ons die natuur skade.”

     “Plante is wonderlik gemaak!”

     “As jy vir God lief is, is jy ook vir plante en diere lief.”

     “Ek kom volgende jaar weer!”

Tussen moddersokker, ekovriendelike plase bou, kleilatgooi en draadboompies maak, is die kinders herinner aan die wonder van God se skepping en die Skepper self.

’n Spesiale dankie aan Shobie wat sy kennis kosteloos tot ons beskikking gestel het.  Jou inspirerende aanbiedings oor plante en passie vir die natuur het die kinders gestimuleer en hul liefde vir die natuur aangewakker — hulle entoesiastiese deelname aan gesprekke het dit duidelik gewys.

💚 Dankbaarheid

’n Groot woord van dank aan die Sinodale Diensraad wat hierdie groot werk moontlik maak en dit vir kinders bekostigbaar hou.
Die Ekologie taakspan is dankbaar dat hulle deur hierdie kamp die liefde vir God en sy skepping kon laat groei — in harte én in hande wat graag dien.

“As jy vir God lief is, is jy ook vir sy skepping lief.”

Thinus Prinsloo

Taakspan Ekologie , Oostelike Sinode