Simile gemeente

Simile NG Kerk - ’n Nuwe seisoen van groei en diens

Die stigting van Simile NG Kerk as ’n volwaardige gemeente op 14 April 2024 was volgens ds. Johan Koen (snr), voorsitter van die Ring van Lydenburg, ’n besondere mylpaal vir die streek. Ná baie jare as wyk van NG Kerk Sabie, staan die gemeente nou op eie voete as die agtste gemeente in die Ring van Lydenburg.

Sedert die stigting het die gemeente merkwaardige groei beleef – nie net in lidmaatgetalle nie, maar ook in geloof, betrokkenheid en gemeenskapsdiens. “Hier sien mense mekaar raak,” vertel ds. Koen. Wanneer iemand siek is of ’n gesin deur ’n tyd van verlies gaan, is die gemeente vinnig daar – met besoeke, ondersteuning en deurlopende betrokkenheid, selfs ná begrafnisse. Hierdie omgee het vir baie mense ’n geestelike tuiste geword en dra by tot die groei in erediensbywoning.

Die kerkgebou in die Simile-woongebied van Sabie het die afgelope jaar ook ’n sigbare opknapping beleef. Die terrein is beveilig met netjiese mure en pallisadeheinings – en in ware gemeenskapsgees het lidmate self ingespring om die heining te verf. “Dit wys iets van hul hart,” sê ds. Koen, “hulle bou nie net aan geboue nie, maar aan mekaar.”

Simile NG Kerk bedien hoofsaaklik Siswatisprekende lidmate oor ’n groot gebied wat die Bosbokrand-platorand insluit. Die gemeente lewer reeds ’n waardevolle bydrae tot die werk van die Ring van Lydenburg en sien met opgewondenheid uit na die toerusting van lidmate om as Diensleraars op te tree.

Die eerste kerkraad van Simile gemeente

Die eerste kerkraad van Simile gemeente saam met Ringsafgevaardigdes van die Ring van Lydenburg

“Simile is meer as net ’n gemeente, dit is ’n familie van gelowiges wat mekaar dra, dien en saam groei in die geloof.”

Johan Koen (snr)

RDR Voorsitter, Ring van Lydenburg