Saam op pad: Die mense agter die Sinodale Diensraad

Saam op pad – Die mense agter die Sinodale Diensraad

vertel die verhale van die mense wat die afgelope vier jaar deel was van die Oostelike Sinode se Sinodale Diensraad. Met die afloop van hierdie termyn staan ons ’n oomblik stil by hulle diens en bydrae, maar ook by die hoop wat hulle vir die Oostelike Sinode en die pad vorentoe koester.

Nico Swart

Wat was jou rol en bydrae tot die Sinodale Diensraad?

Ek was bevoorreg om tydens die vorige Sinodesitting as voorsitter van die RDR van Silverpark op die Sinodale Diensraad te land. Ek het betrokke geraak by die Missionale Taakspan onder leiding van dr. Frikkie Coetzee en het later by hom as sameroeper van die taakspan oorgeneem.

My betrokkenheid het onder meer die beplanning en aanbieding van aanlyn VBO-gesprekke oor evangelisasie ingesluit. Dr. Tom Smit het my ook betrek by die opleiding van leraars en lidmate om INPAS in hul gemeentes te fasiliteer. Ek is verder deur prof. Malan Nel geakkrediteer om sy Dissipels maak Dissipels-kursus aan te bied, wat ons reeds met groot vrug in ons eie gemeente kon gebruik. Ek hoop baie van ons leraars sal hierdie kursus in hul gemeentes aanbied.

’n Ander groot passie is die IRM, die NG Kerk in Mosambiek, waar ek betrokke is by die fasilitering van korttermynuitreike en predikanteversorging. Ons Sinode is in vennootskap met die suidelike sinode van die IRM, oftewel die Novo Sinode.

Wanneer jy terugkyk op jou ampstermyn, wat gee jou hoop vir die Oostelike Sinode?

Ek het oor hierdie tyd ’n al groter waardering en respek ontwikkel vir die breë kerk se strukture en werksaamhede om gemeentes en leraars te ondersteun en te begelei. Dit het my opnuut hoop gegee vir die voortbestaan van die NG Kerk – hoop wat verder versterk is deur die onlangse PredikanteSAAMkoms by Goudini. Ek is werklik trots om deel van die NG Kerk te wees.

Wat my ook hoop vir ons sinode gee, is dat ons as leraars en gemeentes, hoewel ons op verskeie punte teologies van mekaar verskil, steeds mekaar met liefde en respek as familie kon vashou. Ek hoop dat ons hierdie eenheid te midde van diversiteit sal bly koester. Terloops, na my mening is dit ook waarom ons Springbok-rugbyspan so suksesvol is!

Watter oomblik, ervaring of projek gedurende jou ampstermyn sal jy altyd onthou?

Die koinonia wat ek tydens ons SDR-vergaderings beleef het, sal my altyd bybly. Dit was besonders om eerlik te kon vertel hoe dit met jou gaan en te weet dat mense bereid was om vir jou te bid. Ons het ook lekker saam geëet en gekuier.

Ek het die afgelope vier jaar drie opehartoperasies ondergaan, wat vir my traumaties was. Ek sal nooit die meelewing, gebede en hospitaalbesoeke van SDR-lede vergeet nie. Die woorde “Wees bly saam met dié wat bly is, en treur saam met dié wat treur” is vir my kenmerkend van die SDR.

Baie dankie aan elkeen saam met wie ek op die SDR kon dien, by wie ek kon leer en saam met wie ons moeilike sake met deernis kon hanteer. Mag die Here julle ryklik seën.

Carl du Preez

Wat was jou rol en bydrae tot die Sinodale Diensraad?

Ek is tydens die vorige Sinodesitting as een van die nie-gelegitimeerde lede van die SDR verkies. Ek was ook taakspanleier van die Taakspan Leraarversorging.

Omdat ek self nie ’n predikant is nie, was dit vir my besonders om die wêreld van predikante beter te leer verstaan, maar ook om vanuit my agtergrond as sielkundige ’n ander lens na die tafel te bring. Ons taakspan kon uiteindelik ’n anonieme beradings- en terapeutiese diens vir predikante ontwikkel, asook riglyne vir die sinode, ringe en kerkrade oor leraarversorging. Dit is lekker om te weet dat daar nou iets prakties beskikbaar is vir ’n predikant wat dalk op ’n moeilike plek is en ondersteuning nodig het.

Wanneer jy terugkyk op jou ampstermyn, wat gee jou hoop vir die Oostelike Sinode?

Ek het in hierdie vier jaar gesien dat dit regtig moontlik is om saam te werk wanneer Jesus die kern bly. Ons hoef nie oor alles dieselfde te dink om steeds respek vir mekaar te hê en saam aan iets groter as onsself te werk nie. Soms het dit makliker gegaan en ander kere maar effens stowwerig!

Wat my veral hoop gee, is die wonderlike koninkryksmense wat ek ontmoet het – mense wat opreg lief is vir Jesus, vir die kerk en vir mense. Daar is baie “amazing” mense in ons sinode, en dit gee my hoop.

Watter oomblik, ervaring of projek gedurende jou ampstermyn sal jy altyd onthou?

Ek sal waarskynlik die mense die meeste onthou. Die humor, liefde en opregtheid van ons taakspan was vir my ’n groot geskenk. Ons het hard gewerk, baie gepraat, soms verskil en darem ook baie gelag.

Ek het dit ook geniet – al was dit soms nogal ontnugterend – om die “binnewerke” van sinodale werk beter te leer ken. Ek het beslis ’n groter waardering gekry vir hoeveel mense agter die skerms hard werk om die kerk te dien.

Dif Ehlers

Wat was jou rol en bydrae tot die Sinodale Diensraad?

Wat my verteenwoordiging betref, het ek op twee stoele gesit: as verteenwoordiger van die Ring van Ermelo én van die Oostelike Sinode se Taakspan Ekologie.

Wat die ring betref, het ek gepoog om die Sinodale Diensraad op hoogte te hou van die stand van gemeentes in die ring. Veral die posisie van Ermelo-Oos was verskeie kere ter sprake. My verantwoordelikheid het egter in twee rigtings gewerk: om inligting vanuit die SDR na die ring terug te neem en ook deel te wees van pogings om verhoudings rondom Ermelo-Oos te herstel.

Dit was verder my verantwoordelikheid om die SDR op hoogte te hou van die werksaamhede van die Taakspan Ekologie. Ek het ook by die Taakspan Jeug en gesinne ingeskakel

Wanneer jy terugkyk op jou ampstermyn, wat gee jou hoop vir die Oostelike Sinode?

Ons grootste bate is ongetwyfeld ons mense-materiaal. Die diversiteit van verteenwoordiging op die Diensraad het ons gehelp om vanuit verskillende hoeke na sake te kyk. Dit is juis hierdie diversiteit wat die nodige wigte en teenwigte na die tafel bring.

Ek dink veral die teenwoordigheid van persone uit ander professies het ’n verreikende invloed op die dinamika en prosesse van die Diensraad gehad.

Watter oomblik, ervaring of projek gedurende jou ampstermyn sal jy altyd onthou?

My eerste Sinodale Diensraadvergadering was vir my ’n besondere belewenis. Ek onthou hoe ek tydens daardie vergadering gedink het: “Wat ’n voorreg om deel te wees van ’n span soos hierdie.”

Ek het in my lewe al baie vergaderings bygewoon, maar my belewenis van daardie eerste vergadering was eenvoudig: “NEXT LEVEL!” Dit het niks met die agendapunte te doen gehad nie, maar alles met die integriteit waarmee die vergadering en gesprekke gevoer is.

JI de Wet

Wat was jou rol en bydrae tot die Sinodale Diensraad?

Ek het die Ring van Elarduspark op die Sinodale Diensraad verteenwoordig en was ook die leier vir die Taakspan Kommunikasie.

Wanneer jy terugkyk op jou ampstermyn, wat gee jou hoop vir die Oostelike Sinode?

Hoewel daar baie verskille binne die Oostelike Sinode is en ons soms oor verskeie sake koppe gestamp het, gee dit my hoop dat daar steeds ’n groot groep mense is wat bereid is om saam te skrum, saam te dink en saam te werk om die Here se Koninkryk in die oostelike deel van ons land uit te bou – elkeen op sy of haar eie unieke manier.

Dit maak my opgewonde dat ons steeds strategies goed geplaas is om ’n groot verskil in hierdie deel van ons land te maak. Ek glo en vertrou dat die Sinode die nodige leiding sal ontvang om dit te kan doen.

Watter oomblik, ervaring of projek gedurende jou ampstermyn sal jy altyd onthou?

Ek sal beslis al die etes tydens die SDR-vergaderings onthou! Dit was altyd ’n hoogtepunt om saam te kuier en ’n heerlike bord kos te geniet.

Ek sal ook die twee Verby Sondag-kommunikasiekonferensies onthou – die een in Pretoria en die ander by Badplaas. Dit was besonders om saam te kon dink en droom oor hoe die kerk beter en meer doelgerig kan kommunikeer: nie net binne gemeentes nie, maar ook oor hoe ons die evangelie deur verskillende kommunikasiekanale en -strategieë beter na buite kan uitdra.

Louis Pienaar

Wat was jou rol en bydrae tot die Sinodale Diensraad?

Ek het die afgelope vier jaar as verteenwoordiger van die Ring van Barberton op die SDR gedien. Gedurende hierdie tyd het ek die Sinode by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika verteenwoordig. Dit was wonderlik om een van my passies uit te leef deur as ondervoorsitter van die Sinode se Ekologie-taakspan te dien. Die afgelope jaar was dit ook vir my verrykend om die Oostelike Sinode op die Algemene Sinode se Ekologie-taakspan te verteenwoordig.

 Tydens SDR-vergaderings moes ons saam gesels en saam soek na rigting en antwoorde. Sover moontlik het ek deelgeneem, my standpunte gedeel en probeer help om rigting te gee.

Wanneer jy terugkyk op jou ampstermyn, wat gee jou hoop vir die Oostelike Sinode?

Wat my hoop gee, is dat ek beleef het dat almal opreg is in hul soeke na God se wil vir ons Sinode. Daar was ruimte vir elkeen om ’n mening te lug en saam na oplossings vir soms komplekse sake te soek. Dit was wonderlik om te beleef hoe mense uit verskillende agtergronde, omgewings en generasies so goed met mekaar kon saamwerk. Ons kon in liefde van mekaar verskil sonder om die ander se integriteit in twyfel te trek.

Watter oomblik, ervaring of projek gedurende jou ampstermyn sal jy altyd onthou?

Dit is moeilik om net enkele oomblikke uit te sonder. Die hele reis saam oor vier jaar was vir my ’n wonderlike ervaring. Om blootgestel te word aan mense van regoor die Sinodale gebied bring ’n rykdom wat ’n mens help om wyer te dink en meer aandagtig na verskillende stemme te luister.

Om saam met die res van die SDR op reis te wees, het my help groei. Elke gemeente wat op een of ander manier gehelp is, was vir my ’n hoogtepunt.

Retha Kruidenier

Wat was jou rol en bydrae tot die Sinodale Diensraad?

Ek het die Ring van Pretoria-Faerie Glen op die Sinodale Diensraad verteenwoordig. Ek was ook betrokke by die Missionale Taakspan, met ’n besondere fokus op Missionale Diakonaat.

Wanneer jy terugkyk op jou ampstermyn, wat gee jou hoop vir die Oostelike Sinode?

Die Oostelike Sinode bestaan uit diverse gemeentes en predikante, en ek het so baie by almal geleer. My respek vir gemeentes op die platteland het gegroei, en ook vir predikante wat in boerderygemeenskappe ’n groot verskil maak. Net so het ek baie geleer by makrogemeentes in die stad en oor hoe hulle strukture funksioneer.

Die diversiteit binne die Oostelike Sinode en die liefde wat ons vir mekaar het, gee my hoop. Selfs wanneer daar tydens vergaderings verskille in opinies en oortuigings was, kon ons steeds in liefde uitmekaar gaan.

Watter oomblik, ervaring of projek gedurende jou ampstermyn sal jy altyd onthou?

Ek sal die lekker lag rondom die tafel onthou wanneer almal gedeel het hoe dit met hulle gaan. Elke stem om die tafel was belangrik. Dit was vir my baie spesiaal om deel van só ’n groep te kon wees.

Johan Koen (Snr)

Wat was jou rol en bydrae tot die Sinodale Diensraad?

Ek is aanvanklik verkies as verteenwoordiger van die Ring van Lydenburg. Omdat ek ook as sekundus van ’n verkose SDR-lid gedien het, het my portefeulje later verskuif toe ’n vakature ontstaan het.

Wanneer jy terugkyk op jou ampstermyn, wat gee jou hoop vir die Oostelike Sinode?

Dit gee my altyd hoop dat Jesus Christus Here is. In die afgelope jare het die woorde van Petrus my telkens bemoedig: “Inteendeel, eerbiedig Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef.” (1 Pet 3:15)

 Die Oostelike Sinode het baie veranderinge beleef en daar is ook uitdagings wat nie altyd maklik is nie. Tog gee die hoop wat ons in Jesus Christus het, telkens nuwe perspektief.

Watter oomblik, ervaring of projek gedurende jou ampstermyn sal jy altyd onthou?

Een van my mooiste herinneringe is dat my seun, Johan (jnr), nadat my portefeulje verskuif het, as sekunduslid vir die Ring van Lydenburg saam met my deel van die SDR geword het. Dit was ’n vreugde om vroegoggend saam na vergaderings te reis en laatmiddag weer terug, en onderweg ons opgewondenheid én bekommernisse met mekaar te deel. Hierdie gesamentlike verantwoordelikheid was iets wat nie een van ons ooit voorsien het nie.

Ek het in hierdie tyd ook opnuut besef dat ons nie in ons gebede vir die kerk moet verslap nie. Om as kerk anders as die wêreld te leef, is ’n voorreg, maar ook ’n reuse verantwoordelikheid.

Sonnika Nel

Wat was jou rol en bydrae tot die Sinodale Diensraad?

Ek is tydens die Sinodesitting verkies as een van twee nie-gelegitimeerde lede van die SDR. Ek dien ook op die Taakspan Predikanteversorging en die Personeeldiensgroep.

Wanneer jy terugkyk op jou ampstermyn, wat gee jou hoop vir die Oostelike Sinode?

Die grootste voorreg van die afgelope vier jaar was om mense te ontmoet wat regtig lief is vir die kerk en haar mense. Ons het uiteenlopende verwysingsraamwerke, idees en oortuigings, maar ons is almal opreg lief vir die Here en sy kerk. Die grootste waarde van die Oostelike Sinode lê vir my in hierdie diversiteit en in hoe ons dit kan gebruik om self te groei, maar ook die kerk uit te brei sodat dit altyd ’n veilige ruimte vir almal sal wees.

Watter oomblik, ervaring of projek gedurende jou ampstermyn sal jy altyd onthou?

Daar was heelwat groei-oomblikke, maar ek wil graag twee ervarings uitsonder. Die eerste is die geleentheid om saam met die Sinodehuis se dames aan die Verfriskampe te kon werk. Die Sinodehuis-span is net ’n plesier en hulle energie en positiewe ingesteldheid is aansteeklik!

Die tweede was om saam met Carl du Preez, Hanke van Blerk en Marius Nel ’n video vir die vorige Sinodesitting op te neem. Ek het daardie dag so baie gelag dat my maag gepyn het!

Marius Nel

Wat was jou rol en bydrae tot die Sinodale Diensraad?

Ek het die Ring van Witbank op die Sinodale Diensraad verteenwoordig. Vir my was dit belangrik om die unieke konteks, demografie, uitdagings en moontlike bydraes van ons ring telkens op die tafel te plaas. Dit het die SDR daaraan herinner dat gemeentes nie almal dieselfde is nie en dat elke omgewing sy eie werklikhede het.

Ek het dit ook waardevol gevind om my standpunt te kon deel, te verwoord waarin ek glo en vas te hou aan wat vir my belangrik is. Verder was ek betrokke by die werkgroep wat op die versorging van predikante gefokus het. Dit was vir my ’n betekenisvolle projek waarin ons saam kon dink, groei en ’n kreatiewe, praktiese bydrae kon lewer.

Wanneer jy terugkyk op jou ampstermyn, wat gee jou hoop vir die Oostelike Sinode?

Wat my hoop gee, is die samestelling van die Oostelike Sinode. Ons kom uit verskillende omgewings en generasies, en die SDR het breë verteenwoordiging vanuit ons ringe gebied. Dit het vir my ruimte geskep om by mense ouer én jonger as ek te leer en kennis te maak met nuwe maniere van dink, werk en kommunikeer.

Te midde van groot spanning en verskille was daar steeds ruimte om met mekaar te gesels, van mekaar te verskil en belangstelling in mekaar se welstand te toon. Ek het besef hoe waardevol dit is dat ons nie almal dieselfde hoef te wees om saam te kan dien nie. Hierdie verhoudings en die bereidheid om na mekaar te luister, gee my hoop vir die toekoms van die Oostelike Sinode.

Watter oomblik, ervaring of projek gedurende jou ampstermyn sal jy altyd onthou?

Ek sal die dag waarop ons van Francois afskeid geneem en saam buite geëet het, altyd onthou. Dit was ’n hartseer ervaring, maar ook ’n herinnering dat ’n era verbygaan en dat die Here telkens weer voorsien. Wanneer iemand se stoel leeg raak, wonder ’n mens wie dit sal vul. Tog het ons telkens gesien hoe iemand anders na vore tree en die werk voortsit.

Ek sal ook die laaste Sinodesitting by Weesgerus onthou. Dit was vir my ’n besonder betekenisvolle sitting, nie net vanweë die omgewing nie, maar veral vanweë die gesprekke, terugvoer en die manier waarop ons met mekaar kon deel.

Die grootste voorreg was egter om nuwe mense te leer ken en skouer aan skouer te werk met mense wat ek voorheen glad nie geken het nie. In dié tyd het ons goeie vriende geword, en dit was vir my kosbaar.

Landi Botha

Wat was jou rol en bydrae tot die Sinodale Diensraad?

Om op die SDR te kon dien as verteenwoordiger van die Ring van Lyttelton, was vir my ’n voorreg. Ek dien ook op die Ekologie taakspan. Dit was besonders om te sien hoe ander predikante saam worstel met die verskillende uitdagings van bediening. As alleenpredikant was dit vir my waardevol om saam met ander te kon dink oor die pad vorentoe.

Wanneer jy terugkyk op jou ampstermyn, wat gee jou hoop vir die Oostelike Sinode?

Dit gee my hoop dat die Sinode steeds daarna streef om elke taak volgens God se wil aan te pak. Ons kan ruimte maak vir mekaar en terselfdertyd saam die uitdagings van ’n veranderende wêreld aanpak.

Watter oomblik, ervaring of projek gedurende jou ampstermyn sal jy altyd onthou?

Ek dink elke ontmoeting was vir my ’n ervaring van hande vat en saam deurdruk. Om by ’n vergadering te kon aankom en iemand anders lees vir jou uit die Bybel en bid vir jou, was vir my besonders.

Johan Koen (Jnr)

Wat was jou rol en bydrae tot die Sinodale Diensraad?

Ek het die Ring van Lydenburg op die Sinodale Diensraad verteenwoordig en was veral betrokke by die Missionale Taakspan, met ’n besondere fokus op die InPas-beweging.

InPas het vir my waarde gehad omdat dit gemeentes help om nie bloot programme te bedryf nie, maar om opnuut te vra: Waar is God reeds aan die werk? Wat sê Hy vir ons, en waartoe roep Hy ons as gemeentes? My bydrae was om vanuit die Sinode saam te dink oor praktiese maniere waarop gemeentes gehelp kan word om hierdie vrae te vra en in gehoorsaamheid aan God hul roeping konkreet uit te leef.

Wanneer jy terugkyk op jou ampstermyn, wat gee jou hoop vir die Oostelike Sinode?

My hoop lê in die wete dat Jesus Christus steeds en altyd met sy kerk aan die werk is. God sal nie sy kerk los nie.

Ek sien hoop waar gemeentes en gelowiges erns maak met die Woord van God, gebed, dissipelskap en die roeping om Christus se liefde in gehoorsaamheid konkreet uit te leef. Ek hoop dat ons as Oostelike Sinode, te midde van die uitdagings en verskille wat ons beleef, al hoe meer sal ontdek dat ons identiteit nie in die eerste plek in ons strukture of standpunte lê nie, maar in ons gehoorsaamheid aan Christus en sy Woord.

Watter oomblik, ervaring of projek gedurende jou ampstermyn sal jy altyd onthou?

Een van my kosbaarste ervarings was die geleentheid om predikante en gemeenteleiers uit verskillende dele van die Sinode te ontmoet. Dit was besonders om te sien hoe gemeentes, ten spyte van verskille in konteks, dikwels met dieselfde vrae worstel: Hoe luister ons na God? Hoe dien ons ons gemeenskappe? Hoe bly ons getrou aan ons roeping?

Die geleentheid om op ’n breër vlak met mekaar te verbind en van mekaar te leer, is vir my een van die groot waardes van kerkverband. Ons kon vanuit verskillende hoeke met mekaar gesels oor hoe roeping in uiteenlopende omstandighede gestalte kry. Dit het my opnuut laat besef hoe waardevol dit is om deel te wees van ’n groter geloofsfamilie.

Rika van Vuren

Wat was jou rol en bydrae tot die Sinodale Diensraad?

Ek is as sekunduslid en ringsverteenwoordiger van die Ring van Middelburg genader om op die SDR te dien.

Wanneer jy terugkyk op jou ampstermyn, wat gee jou hoop vir die Oostelike Sinode?

My byna twee jaar op die SDR het my hoop gegee deur mede-leiers wat met erns en toewyding aan die Here se koninkryk werk en die uitdagings van ons tyd aanpak. Hoewel ons van mekaar verskil, kies ons vir liefde, samewerking, harde werk en diensbaarheid in afhanklikheid van die Here. Hierdie gesindheid weerspieël iets van Christus en gee my hoop vir die toekoms van die Oostelike Sinode.

Watter oomblik, ervaring of projek gedurende jou ampstermyn sal jy altyd onthou?

Wat ek altyd sal onthou, is die veilige ruimte wat ek as medewerker gehad het om my mening te gee. Ek sal ook die dag onthou waarop die gelegitimeerde diensleraars van ons Sinode met opregte gasvryheid, openheid en respek by die Sinodehuis verwelkom is. Die familie-metafoor was daardie dag sigbaar en tasbaar.