Premiergemeente Paasnaweek 2026

Bo ons begrip en verstand: ’n Liefdesdaad

Dis Goeie Vrydag, en ons gedenk ’n ingrypende gebeurtenis so omvangryk dat ons die diepte en wydte daarvan moeilik ten volle kan verwoord.

Ons gemeente, Premiermyn in Cullinan, het vanjaar weer ons tradisie voortgesit: ’n simboliese kruistog van ongeveer ’n halwe kilometer wat vroegoggend in stilte afgelê word. Almal dra donker of swart klere.

Daarna vergader ons buite die kerkgebou by ’n kruis met rooi lap gedrapeer. Ds. Leon Westhof herinner ons, met bakkies geurige olie, aan die vrou wat Jesus ter voorbereiding van sy begrafnis met duur nardusolie gesalf het.

Die gebruik van nagmaal vul ons opnuut met eerbied op hierdie oggend.

Stil Saterdag: die koringkorrel wat sterf

Stil Saterdag se oggend word aangebied deur Magdaleen du Toit. Johannes 12:24 is ons vertrekpunt:
“As die koringkorrel in die grond val en sterf, dra dit veel vrug …”

Koringkorrels op ’n swart lap, met grond en klippe daarby, is waar die koring én ons eie reis begin.

Verskeie gedeeltes uit die Woord lei ons gedagtes na koringare, die vrug wat dit voortbring en die oes — tot by die voedsel en die volmaakte Lewende Brood.

Op kreatiewe wyse skep ons elkeen ’n prentjie wat dit uitbeeld. Elkeen op ’n unieke reis met ons gedagtes — in stilte — en in kontak met God.

Paassondag: die vreugde van die leë graf

Die verhaal ken ons, maar ds. Westhof kry dit reg om die gebeure nuut te belig.

Hy neem ons terug na die oomblik toe Jesus gevange geneem is, en die onbekende jongman wat sonder klere weghardloop. Dan na die oop en leë graf waar ’n onbekende jongman sit, geklee in lang wit klere.

Van die tuin van Getsemane na die tuingraf.
Ons geestelike naaktheid van swyg en vlug.
Die kruisiging en opstanding lei na vreugde en herstel en ’n nuwe spierwit kleed — hoe ver bo ons begrip en verstand.

Ons, geklee in ligte of wit klere, bring wit blomme na ’n simboliese graf. ’n Graf wat ons nou weet leeg was daardie môre; ’n waarheid wat die binnekern van ons geloof vorm.

Hy leef! Hy het die dood oorwin … sodat ons ook kan leef.

Dit is ’n liefde ver bo wat ons menslik kan verwoord.

deur Leonie Joubert

Premiermyn Gemeente