Die Algemene Sinode Moderamen (ASM) het ter vergadering 11–13 November 2025 die voorstel van ‘n groot PredikanteSAAMkoms vir 2026 heelhartig ondersteun en deel graag hierdie belangrike inisiatief.
WAT IS DIE BEDOELING VAN DIE SAAMKOMS
Hierdie besondere geleentheid vorm deel van die groter proses waarmee die Taakspan Predikantesake (ATP) gemoeid is, naamlik ons predikantekorps se persoonlike welwese en versorgingsprogram. Die laaste byeenkoms van so ‘n aard het in 2005 plaasgevind, en dié wat dit bygewoon het, getuig steeds van die blywende uitwerking daarvan.
Die PredikanteSAAMkoms word juis só ontwerp met ritmes en inhoud wat predikante wat tans in die bediening staan, versterk, ondersteun en begelei om met entoesiasme, opgewondenheid en met ‘n hernude roepingsbesef weer gemeentes en gemeenskappe met oorgawe te gaan bedien.
Dis nóg sinodesitting, nóg werkswinkel, nóg teologiese beraad. Dit is ’n geleentheid vir predikante om saam te wees, mekaar te versterk en herinner dat ons nie alleen in ons roeping en bediening stap nie.
’n Fees van roeping
Hier herinner ons mekaar aan die gawes en roeping wat elke predikant dra. Jy kom nie net vir inligting nie, jy kom vir herstel, bevestiging en nuwe droom.
’n Fees van geloof
Ons vier die God wat in ons, tussen ons en deur ons werk. Ons soek saam na God se leiding vir ons gemeentes en vir die kerk.
’n Fees van menswees
Ons lag. Ons sing. Ons eet saam. Ons dra mekaar. Hier mag predikante weer mens word, en God ontmoet in mekaar.
’n Gemeenskap van waardering
Deur plakkate, stories, gebede, liedere en gesprekke erken ons die mentors, kollegas en geestelike leiers wat ons gevorm het. Ons kyk terug met dankbaarheid, en vorentoe met hoop.
’n Ruimte vir risiko en kreatiwiteit
Hier is geen beoordelaars nie. Geen “perfekte” maniere van deel nie. Alles word uitgenodig: kwesbaarheid, humor, stilte, musiek, vrae, twyfel, drome.
WAT DOEN ONS BY HIERDIE BYEENKOMS
By SAAMKOMS ontwerp jy jou eie reis.
Daar is geen “regte” roete of verpligte sessies nie, jy kies wat jou roep, wat jou nuuskierig maak, en wat jy nou nodig het.
Jy is welkom om vrylik tussen ruimtes te beweeg en jou dae so saam te stel dat dit vir jóú betekenisvol is.
Let asseblief daarop dat sekere sessies beperkte sitplekke het. Veral ruimtes soos Kringe, Kunskapel, Werkwinkels en Woordkamer vereis vooraf registrasie. Dit help ons om die ruimtes veilig en intiem te hou.
Verken die opsies. Skep ’n ervaring wat jou dra.
WANNEER EN WAAR
Datum: 24–28 Augustus 2026
Plek: ATKV Goudini Oord, Wes-Kaapland
Daar is doelbewus ‘n plek gesoek waar almal op dieselfde terrein kan bly en waar daar ‘n ruim saal is om saam te kom. Dit moes naby ‘n lughawe wees, maar ook ’n omgewing wees waar ‘n mens werklik kan ontspan en tot rus kom. Hoewel ons verskeie ander venue-opsies oorweeg het en kwotasies ingewin het, het Goudini uiteindelik die beste aan al ons vereistes voldoen.
Die wonderlike terrein van ATKV Goudini Oord bied vir ongeveer 750–800 kollegas die geleentheid om saam te kom en skep die ruimte vir hierdie besondere tyd van gemeenskap en groei. Selfs al sou daar meer belangstellendes wees, is ons oortuig daarvan dat ons ‘n oplossing sal vind.
Dit is belangrik om so vroeg as moontlik te bespreek om te verseker dat daar verblyf en plek by jou voorkeur-sessies beskikbaar is. Geen besprekings is bevestig voordat betaling ontvang is nie. Klik op die skakel en begin die proses nou.
WIE WORD UITGENOOI
Alle predikante, diensleraars en emeriti wat tans in diens van ’n gemeente of in ‘n sinodale pos is, word hartlik uitgenooi om te registreer vir hierdie PredikanteSAAMkoms.
