Ons groet ‘n kollega

ONS GROET ‘N KOLLEGA

Aan die einde van Junie neem die Sinodehuis afskeid van Cathy Odendaal. Ons beste wense vergesel Cathy, wat sedert 1 Mei 2017 as Bedryfsbestuurder in diens van die Oostelike Sinode gestaan het.

Ons het groot waardering vir haar professionaliteit, toewyding en sterk werksetiek. Cathy se vermoë om ons gemeentes met moeilike administratiewe en finansiële vrae by te staan, asook haar praktiese en kreatiewe advies, het dikwels gehelp om vele prosesse te vereenvoudig, groter doeltreffendheid te bevorder en medewerkers te ondersteun. Ons bid dat die Here haar op haar nuwe lewensreis ryklik sal seën.

In  gesprek met Cathy

Op 1 Mei 2017 het ek as Bedryfsbestuurder by die NG Kerk Oostelike Sinode begin werk. As my tyd hier ‘n boek of fliek was, sou die titel waarskynlik wees: “Die Gawe om te Dien en te Leer.”

Waarom? Omdat hierdie nege jaar vir my soveel meer was as net ‘n hoofstuk in my loopbaan. Dit was ‘n reis waarin ek gegroei het as mens, as leier en as gelowige. Ek het ongelooflik baie geleer – van die veelvlakkigheid van menswees, die kompleksiteit van omgee en naasteliefde, en die diepte en betekenis van die woord dien.

Dit was ‘n plek waar ek die voorreg gehad het om my kommersiële ervaring en kennis van syfers en stelsels binne ‘n geloofsgemeenskap toe te pas. Hier kon ek mense bemagtig, kennis deel en die balans vind tussen strategie, prioriteite en diensbaarheid. Ek kon my beroepsmissie van rentmeesterskap met oorgawe uitleef.

Die Sinodehuis is ‘n plek waar ek idees kon deel, by my kollegas kon leer en opnuut besef het dat familie nie noodwendig deur bloed bepaal word nie. Ek glo dat God elke lid van die Sinodehuis-span met sorg hier geplaas het, en elke persoon saam met wie ek hierdie pad gestap het, het ‘n blywende merk op my hart gelaat.

Ek gaan ons spanbou-middagetes, die daaglikse saamkuier rondom ‘n koppie tee en die spontane gesprekke tussenin vir altyd koester. Dit is die klein, alledaagse oomblikke – en die gepaardgaande saam-mens-wees – wat ek die meeste gaan mis. Dit mag eenvoudig lyk, maar dit was juis in daardie oomblikke waar ons saam gelag, gedeel, mekaar ondersteun en mekaar beter leer ken het. Vir my was die ware hart en krag van ons span sigbaar in die samehorigheid wat in hierdie eenvoudige oomblikke ontstaan het.

Oor die afgelope nege jaar het ek baie geleer oor God, mense en die kerk. Ek het geleer dat God sy kerk dra, selfs wanneer daar magte is wat verdeeldheid wil saai. Ek het gesien hoe mense soms hul eie agendas volg, maar ek het ook gesien hoe God se roeping tot eenheid sterker bly as enige poging tot skeuring. Ek het opnuut besef dat die kerk soveel meer is as geboue, strukture of vergaderings. Die kerk is mense. Dit is verhoudings. Dit is ‘n beweging. Dit is ‘n tuiskoms.

Wanneer ek terugkyk, voel ek diep dankbaar dat ek my kennis kon deel, amptenare kon bemagtig, riglyne kon ontwikkel en saam met uitsonderlike kollegas kon werk. Van my grootste professionele vreugdes was die ontwikkeling van die vergoedingsmodel en die grondwerk wat ek kon doen om ander toe te rus en te versterk. As daar iets is wat ek hoop sal voortleef, is dit nie net die stelsels wat geskep is nie, maar die mense wat gegroei het, die vertroue wat gebou is en die kennis wat oorgedra is.

As die Sinodehuis-span my in drie woorde sou onthou, hoop ek dit sou wees: toegewyd, kampvegter en omgee. Toegewyd aan die werk en die roeping wat aan my toevertrou is. ‘n Kampvegter vir wat reg en billik is. En iemand wat opreg ander se belange op die hart gedra het.

Nou het die tyd aangebreek om aan te beweeg na ‘n nuwe seisoen. Ek sien uit na die avontuur wat voorlê – om vir ‘n rukkie stadiger te leef, God se skepping opnuut te geniet, nuwe dinge te ontdek en nuwe ervarings op te doen. Ek sien ook daarna uit om betrokke te raak by ‘n liefdadigheidsorganisasie wat omsien na mishandelde vroue en kinders – ‘n saak wat vir my baie na aan die hart lê. Ek hoop dat ek ook daar ‘n verskil sal kan maak en steeds ‘n lig vir Jesus sal wees.

Aan elke kollega, vriend en medewerker wat deel van hierdie reis was: dankie. Dankie vir julle ondersteuning, geduld, wysheid, vriendskap en samewerking. Julle het hierdie hoofstuk onvergeetlik gemaak.

Ek verlaat die Sinode met vertroue en hoop vir die toekoms. Ek glo dat die leierskap, onder God se leiding, sal voortbou op die goeie fondamente wat reeds gelê is en die Sinode met visie, wysheid en geloof na nuwe geleenthede sal lei. Die uitdagings van ons tyd is werklik, maar so ook God se getrouheid. Daarom sien ek met verwagting uit na dit wat nog voorlê vir die Sinode en sy gemeentes.

Ek kan die Here nie genoeg dank vir hierdie seisoen van my lewe nie. Ek stap weg met ‘n hart vol dankbaarheid, kosbare herinneringe en groot waardering vir elkeen van julle.

Mag die Here die werk van die Sinode en elkeen wat hier dien, steeds ryklik seën.

Met opregte dankbaarheid,