Ons groet Adriaan van Tonder

Ds. Adriaan (AJPvanH) van Tonder - predikant by Tzaneen-Wolkberg sedert 2010

Wanneer ’n predikant aftree, dra hy nie net jare van diens saam nie, maar ook die stories, vrae en ontdekkings wat sy bediening gevorm het. Vir ds. Adriaan van Tonder begin alles by ’n vraag wat hom sedert sy bekering op 14-jarige ouderom  nooit losgelaat het nie: “Maar jy, wie sê jy is Ek?” Hierdie lewensvraag sou ook die titel van sy boek kon wees – ’n boek wat doelbewus met ’n paar leë bladsye eindig, sodat lesers self hierop kan antwoord.

Hy beskryf homself as ’n “Jona wat dikwels weghardloop, maar graag Daniël sou wou wees”. Tog is sy stories deurdrenk van nederigheid en eerlikheid. Een van sy kosbaarste herinneringe is die heel eerste keer wat hy Nagmaal bedien het – sy hande wat bewe, die brood wat skaars kon breek, en die bietjie wyn op die wit tafeldoek. Sondae voor ‘n erediens begin, sien jy hom by die doopvont waar hy stil bid voordat hy die kansel bestyg.

Wanneer hy terugdink aan sy eerste dag in die bediening, sê hy met die wysheid van jare (hy was 50 jaar toe hy die bediening betree het): “Jy’s nie reg vir hierdie ding nie… Here, wees my sondaar genadig.”

Liedere het nog altyd ’n spesiale plek in sy hart gehad – veral “Jesus, Alles gee ek U” en die Engelse “I Surrender All”. Maar die lied wat hom die diepste roer, bly “Going Home”.

In sy aftrede sien hy uit na die rustige genot van twee groot liefdes: om die pre-Niceense (<325vC) kerkvaders verder te bestudeer… en om met geduld en sorg aan sy bonsai-bome te skaaf.

Wat hy die graagste wil nalaat aan die gemeente, is ‘n eenvoudige maar ewigdurende waarheid:

So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy Eniggebore Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe sal hê!”

’n Boodskap van genade wat langer moet leef as enige kanselwoord.