CMR Storie van Hoop

Om ’n plek te vind waar jy behoort

Elkeen van ons wil iewers hoort. ’n Plek hê waar jy nie heeltyd hoef beter te lyk as wat jy voel nie. ’n Plek waar jy net jý kan wees. Nie omdat jy alles reg doen nie, maar omdat jy geken word, en steeds aanvaar word.

Vir kinders wat uit hul gesinne verwyder en in alternatiewe sorg geplaas word, kan dit maklik voel of hulle nêrens regtig behoort nie.

Die nuwe maatskaplike werker van een van CMR Gauteng-Oos se kantore het vir Jake* die eerste keer by die kinderhof ontmoet. Jake het langs ’n pleegouer, tussen grootmense met dik lêers en baie opinies, gestaan. Stil. Versigtig. Amper asof hy onsigbaar wou wees.

Kinders wat baie geskuif is, leer dit vinnig. Hulle lees die vertrek, pas aan.

Toe die maatskaplike werker vir Jake in sy huistaal groet nog voor sy die lêer oopmaak, het hy opgekyk. Net vir ’n oomblik. Jy kon sien iets in hom ontspan. Asof hy gedink het:
“Miskien sien sy my.”

Wanneer gedrag eintlik ’n vraag is

In die hof word daar gepraat oor hoe die kinderhuis sukkel met hom. Hoe die pleegouer nie meer kan nie. Toe die landdros uiteindelik vir Jake vra hoekom hy dink dit gebeur, antwoord hy sag: “Soms doen ek dinge… en daarna weet ek nie hoekom nie.”

Wanneer kinders nie die woorde het nie, praat hulle gedrag. Wat soos opstand lyk, is baie keer eintlik ’n vraag: “Het ek nog ’n plek? As jy my moeilikste kant sien, gaan jy my nog kies?”

Nog oproepe is gemaak. Nog plekke is gebel. Party het nie plek gehad nie. Ander wou nie plek maak nie. Elke “nee” het vir Jake bevestig: “Ek is te veel. Ek pas nêrens in nie.”

’n Maatskaplike werker wat nie opgee nie

Die maatskaplike werker het nie opgegee nie. Sy het teruggegaan kinderhof toe. Weer en weer. Sy het aangehou soek na meer as net ’n tydelike plan. Dit het vir Jake laat voel hy maak saak.

Uiteindelik kry sy Jake se biologiese ma in die hande. Jare gelede is hy uit haar sorg verwyder. Dinge was toe onstabiel. Sy het kontak gehou, maar nie besef hoe swaar dit nou met hom gaan nie.

Intussen het sy haar lewe in ’n ander provinsie oor begin. ’n Nuwe huwelik. ’n Jong dogtertjie. Meer vaste grond onder haar voete.

Die gesprek het stadig begin. Versigtig. Sy het gehoor hoe Jake met elke skuif na ’n nuwe plek na haar gevra het.

Hereniging gebeur nie altyd nie. Soms werk dit nie uit nie. Maar soms verander mense. Soms groei hulle. Soms kan ’n mens met die regte ondersteuning weer bou.

Daar was spyt in haar stem. Maar ook ’n vasberadenheid.

’n Nuwe begin

Die volgende dag kry die maatskaplike werker ’n WhatsApp. ’n Skermkiekie van ’n vliegtuigkaartjie.

Maandagoggend staan Jake en sy ma hand aan hand buite die kinderhof. Hy leun effens teen haar. Met die hof se leiding vertrek hy daardie dag saam met sy ma. ’n Nuwe skool, ’n nuwe uniform wag.

Om ’n plek te kry waar jy regtig behoort, laat nie probleme verdwyn nie. Vir Jake en die gesin lê daar nog ’n pad voor. Berading. Moontlik moeilike gesprekke. Die maatskaplike werker volg steeds op en sal verwys waar nodig.

Om te behoort gee jou grond onder jou voete. Dit skep ’n veilige ruimte waar vertroue stadig kan wortel skiet. Dit bied geleentheid vir genesing en groei.

*Naam verander

Lees meer op CMR Gauteng-Oos se Facebook bladsy

Christine Shaw

CMR Gauteng-Oos: Stories van Hoop