Die droom van ‘n nuwe gemeente…
‘n Klein groepie gelowiges is in ‘n skoolsaal bymekaar. Hulle sing en bid saam, saam luister hulle na hulle jong dominee se verkondiging van die Woord van God, en dis vir hulle goed. ‘n Jong ingenieur en sy vrou hardloop agter hul seuntjie aan wat eerder wil balskop op die rugbyveld, want nadat oom Jan stories vertel het, is die kerk nie meer lekker nie.
Die jong dominee lei die gemeente se kerkraad om ‘n stukkie grond te koop reg langs die Engelse laerskool sodat hulle ‘n kerk kan begin bou. “Pa, ons moet nie laat wees nie. Ons wil sien hoe dominee die troffel in die hand neem as ons begin bou. Net nou val hy van die gebou af,” sê boetie. “Sy handjies is heeltemal te sag om met sement en ‘n troffel te werk,” sê sussie. Die broers kom elke Saterdag bymekaar en werk aan die gebou; steen vir steen sit hulle dit aanmekaar. Die susters verkoop koeksisters, hulle kom bymekaar en gee vir die mans koffie en beskuit – mans drink mos nie tee nie.
Lynnwoodrif gemeente word ‘n voorloper…
By die inwyding van die kerkgebou is almal daar, almal is bly: “Dis óns gebou! Ons het dit self gedoen, ons is trots hierop.” Die konsulent van die gemeente bid in ‘n tipiese predikantstem: “Here, laat hierdie gebou ‘n lig in die ooste van Pretoria wees.” Almal in die gemeente sê saam “Amen.”
Die politiek in die land is nie lekker nie; die jong dominee is bekommerd. Hy gaan na die Here toe en hy maak die saak met die Here uit: “Here, só kan dit tog nie aangaan nie.” Die Here lei die gemeente, nog voor die NG Kerk oopgestel is, om ‘n gemeente van versoening te wees, ‘n gemeente wat liefde en vrede aan alle mense oordra. Die kerkraad besluit hierdie gemeente is ‘n gemeente waar alle mense welkom is, ongeag ras, taal of nasie.
Die jong ingenieur is nie meer so jonk nie; hy en sy vrou woon die aanddiens by. Die kerk is vol. “Pappa, dis darem ‘n lekker dominee hierdie,” sê sy. “Ja, Mamma, hy preek so lekker dat ons dominee ‘n kerk so vol kan preek.” Die gemeente het verder uitgebrei en verder gegaan as toe die jong dominee daar was.
En pas vandag as ‘n semi-middestad gemeente aan…
Vandag sit die ingenieur se vroutjie alleen voor in die kerk; sy het haar man laasweek begrawe. Haar oë sien nog goed, maar haar hande bewe. Dis vir haar lekker in die kerk, dis haar gemeente. Sy is al 50 jaar ‘n lidmaat hier. Die gemeente is haar plek, sy dink by haarself – ons sing nog lekker liedere, die kerk is vol al is dit nie só vol soos wat dit was nie.
Sy tel hoeveel mense daar oor is van 50 jaar gelede; daar is net 3 oor. Maar die nuwe mense het nuwe bloed gebring. Die kindertjies in die kerk maak dit so lekker as ons saam met hulle sing. Sy hoor dominee sê die gemeenteraad het gebid en die Here gevra wat hulle kan doen om as ‘n semi-middestad gemeente ‘n verskil te maak. Die gemeenteraad sê die Here het gesê hulle moet ‘n gemeente wees van “kom na My toe, almal”. Almal is welkom ongeag ras, taal en nasie. Hulle moet na almal toe uitreik. Sy sit haar gehoorstuk harder en wonder – is dit nie wat die jong dominee 50 jaar gelede gesê het nie? Sy hoor die dominee sê “kom na My toe, almal” beteken hulle is lief vir God, lief vir mekaar en lief vir alle ander mense. Sy maak haar oë toe en bid: “Dankie, Here, vir 50 jaar in hierdie gemeente. Dankie, Here, dat ek hier kan wees. Dankie, Here, dat ek hier ‘n verskil kan maak. Amen.”

In die fotos: Heel bo regs – prof Piet Mering, eerste leraar van Lynnwoodrif gemeente saam met van die eerste lidmate van die gemeente, wat ook die deur van die nuwe gemeente oopgesluit het.
Bo links – Nuwe houtkruis opgerig met 50ste verjaarsdag.
V.l.n.r Nagmaal met oud leraars om die tafel, ds Paul du Toit, vorige gemeenteleraar, saam met sy seun en gesin, Gesellige saam-kuier na die 50ste fees-erediens en verjaarsdagkoek wat deur gemeentekinders versier is.
– Dr. Jorrie Potgieter (Michelle Jansen van Rensburg)