’n Lang Pad Huis Toe | CMR Gauteng-Oos en ’n storie van hoop

’n Lang Pad Huis Toe

Sy druk die baba styf teen haar bors, langer as wat sy kan bekostig. Die oggendlug is koud. Die stukkend in haar dreig om haar te ontspoor. Dit voel asof dit haar aanjaag om te kies. Nou of nooit. Die baba beweeg liggies en maak ’n sagte geluidjie, amper asof sy iets vra. Sy maak haar oë toe, druk haar wang teen die baba se voorkop. Iets in haar wil daardie warm, sagte gevoel onthou.

“Ek is so jammer,” fluister sy.

Sy vou die kombers stywer om die klein lyfie. Die huis wat sy gekies het, was naby die polisiestasie. Naby genoeg, hoop sy. Hoop vir iemand wat kan gee wat sy nie kan nie.

Versigtig sit sy die baba by die hek neer. Nie omdat sy nie lief was nie, maar omdat sy wél lief was. Voordat sy van plan verander, stap sy vinnig weg. Soms lê daar agter verlating nie onverskilligheid nie, maar desperaatheid.

Elizabeth is laat vir werk. Sy maak die hek oop, half in gedagte. Toe sien sy die bondeltjie. Aanvanklik dink sy sy verbeel haar, maar toe beweeg dit. En sy hoor iets daar binne. Sy kan haar oë nie glo nie.

Binne die kombers lê ’n babadogtertjie. Koud. Sy kerm en huil sag maar aanhoudend. Met die bondeltjie in haar arms, haas Elizabeth haar na die polisiestasie. Die beampte aan diens ken nie heeltemal die prosedures nie, maar hy weet die baba moet veilig wees. Hy neem haar na ’n geregistreerde plek van veiligheid. Toe hulle oor die baba se naam vra, aarsel hy, sê toe sag: Tsholofelo. Want dit beteken hoop.

’n Week later word die saak by een van CMR Gauteng-Oos se kantore aangemeld. Die maatskaplike werker besef dit gaan ’n lang proses wees. Papierwerk ontbreek, stappe is oorgeslaan. Sy begin dadelik. Vorms, hofbevele, die soektog na die biologiese ouers. En gekeurde aannemingsouers.

Daar is niks op hulle rekords beskikbaar nie. ’n Ander organisasie word gekontak. Hulle hét ’n kinderlose paartjie. Reeds gekeur en wat lankal wag.

Hulle huiwer nie.

Die eerste ontmoeting is sag. Tsholofelo kyk met groot ogies, asof sy probeer uitwerk wie hulle is. Die vrou hou haar saggies vas. Die man bly naby, praat rustig. Dit gebeur nie oornag nie, maar dit is ’n begin.

Gereelde besoeke volg. Iets begin groei. Vertroue, herkenning… iets wat soos behoort voel.

Tsholofelo is amper een jaar oud. Sy is steeds in die plek van veiligheid. Die papierwerk is nog nie klaar nie, die hofprosesse neem tyd. Maar sy is nie meer alleen nie. Daar is mense wat vir haar wag, en saam met haar wag. Wat haar leer ken, haar laggie, haar klein handjies, hoe sy uitreik.

Haar storie het nie maklik begin nie — met seer, onsekerheid en vertragings.

Maar soos haar naam sê, is daar hoop. Met die regte mense, die regte professionele insette, wat elke tree saam met haar stap, is daar ’n goeie kans, hoop dat Tsholofelo haar eerste verjaarsdag nie net veilig sal wees nie… maar tuis.

*Naam verander

CMR Gauteng-Oos is een van die Oostelike Sinode se barmhartigheidsvennote.

Anneke Steyn, Bemarker

CMR Gauteng Oos