Laeveld gemeente se hoop op ‘n beter toekoms
Toe Francois Schwalb, plaaslike predikant van die NG Gemeente Laeveld, drie jaar gelede hoor dat sy seun se bulletjie-rugbyspan ’n afrigter soek, het hy nie lank gedink nie. “Ek sal help,” het hy besluit – sonder om te weet dat dit nie net die seuns se lewens sou raak nie, maar ook die gemeenskap s’n.
Vandag, drie jaar later, sê hy glimlaggend: “Daardie 35 jong seuns het my meer oor die lewe en geloof geleer as wat ek hulle kon leer. Na elke oefening bid ons saam die Onse Vader – en dit bind ons op maniere wat rugby alleen nie kan doen nie.”
Een van die jaarlikse hoogtepunte is die spoggerige braai wat by die gemeente NG Laeveld in Modjadjiskloof gehou word. Hier kry die jong spelers hul medaljes, sertifikate en pryse, voordat almal saam kuier om die vuur. En soos Nelson Mandela gesê het: “Sport het die krag omdie wêreld te verander en mense bymekaar te bring.” Vir hierdie gemeenskap beteken dit dat die NG Kerk nie net as ’n Afrikaanse instelling gesien word nie, maar as ’n lewende en betrokke deel van die dorp se groter hartklop.
Toe Francois Schwalb, plaaslike predikant van die NG Gemeente Laeveld, drie jaar gelede hoor dat sy seun se bulletjie-rugbyspan ’n afrigter soek, het hy nie lank gedink nie. “Ek sal help,” het hy besluit – sonder om te weet dat dit nie net die seuns se lewens sou raak nie, maar ook die gemeenskap s’n.
Vandag, drie jaar later, sê hy glimlaggend: “Daardie 35 jong seuns het my meer oor die lewe en geloof geleer as wat ek hulle kon leer. Na elke oefening bid ons saam die Onse Vader – en dit bind ons op maniere wat rugby alleen nie kan doen nie.”
Francois vertel met ’n vonkel in sy oog van ’n klein wonderwerk: “Ons het net worsbroodjies vir die kinders beplan en die ouers moes hul eie vleis bring. Maar toe die kinders klaar eet, was daar nog soveel oor dat elke ouer ook ’n worsbroodjie kon kry – selfs seconds vir die kinders – en nog het ons oorgehad vir die volgende dag.”
Die span, bekend as die “Bosbokke en Klofies”, weerspieël die ryk mengsel van Limpopo: Sepedi, Tsonga, Venda, Afrikaans en Engels. Op die veld is hulle net spanmaats – en langs die veld kuier hulle ouers saam, oor kultuurgrense heen. “Daar is ’n behoefte om saam te gesels en te ontdek dat ons eintlik baie dieselfde is,” sê Francois. “Ons almal wil vrede hê, gesonde gemeenskappe en die beste vir ons kinders.”
Sport is vir hom meer as net ’n wedstryd. Dit breek mure af. “As jy saam oefen en speel, werk jy vir dieselfde doel. Dit gee nie net energie nie – dit maak jou hart oop om die mooi raak te sien.”
‘n Ryk geskiedenis
Die kerk self het oor die jare ’n pad gestap in die gemeenskap. Francois herinner graag daaraan dat die trouregisters van die 1930’s al vanne uit verskillende kulture insluit – ’n teken dat hierdie gemeente nog altyd ’n plek was wat mense bymekaar roep.
Vorentoe . .
En Francois? Hy sien uit na nog minstens vyf jaar langs hierdie rugbyveld. “My jonger seun begin volgende jaar met Bulletjie rugby. Ek is hier vir die lang pad.”
Hier, tussen rugby, gebed en boereworsrolle, word hoop gebou – een drie, een span, een braai, een gemeenskap, een storie op ’n slag.