Mandala-oggend – ’n kreatiewe gebed

Mandala-oggend – ’n kreatiewe gebed by Premiermyn-gemeente in Cullinan

Dis ’n ligbewolkte someroggend in ons dorpie Cullinan. Dit is 31 Januarie 2026. By The Shack, ons geliefkoosde kuierplek by Premiermyn-gemeente, is die deur vroegdag reeds oop. Hier gaan vandag ’n besondere byeenkoms plaasvind.

Die kleurvolle tafels is vol kunsbenodigdhede: kleurpenne en karton, gomstokkies en skêre, inspirerende prente, papier met allerlei patrone en motiewe. Vandag gaan ons, onder leiding van Magdaleen du Toit, die geleentheid gebruik om ons eie kreatiewe prentjie te vorm – ’n sigbare gebed wat die gebed in ons harte weerspieël.

Fotos voorsien

’n Vrou met ’n kreatiewe geloof

Magdaleen is ’n Vrystaatse juweel wat hier in ons midde kom woon het. Sy is ’n vrou met vele talente, onder meer ’n bekwame berader en aanbieder van werkswinkels en retreats vir vroue. Sy het ’n praktiese, deurleefde geloof en ’n kreatiewe gees – en deel dit graag met ander.

’n Pragtige groep vroue daag op. Een het haar man saamgebring, ’n predikant. Opgewondenheid is tasbaar. Elkeen is bereid om hulself oop te stel vir hierdie nuwe ervaring.

Wat is ’n mandala?

’n Mandala is ’n sirkel-kunsvorm. Die sirkel en spiraal is universele simbole wat ons in alle kulture aantref: primitief sowel as ontwikkeld, Oosters en Westers, antiek en modern. Dit simboliseer heelheid, ingeslotenheid, veiligheid, samesyn, volmaaktheid en ewigheid.

Die oorsprong van hierdie kunsvorm lê in ons waarneming en weergawe van die patrone, vorms en kleure wat oral in die natuur te vind is – God se eie handewerk.

Spirale en sirkels is te sien binne-in blomme en skulpe, in vetplante se groeiwyses en in die irisse van ons eie oë. Sny ’n vrug soos ’n lemoen of kiwi deur en kyk na die perfekte patroon, of beskou die spiraal van ’n opgerolde nuwe varingblaar.

Het jy geweet dat ons DNS-heliks se deursnit onder die mikroskoop perfekte simmetriese patrone wys? Geskep deur die Meester.

’n Kreatiewe tyd in God se teenwoordigheid

Ons sit in ’n kring sodat ons mekaar kan sien en ook geïnspireer kan word deur voorbeelde van die kunsvorm wat in die middel uitgestal is. Die kers is ’n simbool van die teenwoordigheid van God deur sy Gees.

Magdaleen lees vir ons Paulus se gebed vir die Efesiërs (Efesiërs 3:16–19). Kernfrases uit die gelese gedeelte word die woorde van ons innerlike stilword.

Gedurende die rustige tyd wat volg, reis ons na binne. Ons stel ons gedagtes oop sodat God se skeppende Gees deur ons vingers kan vloei tot op die papier voor ons – bo-oor die woorde van ons eie geskrewe gebed.

n Unieke ervaring vir elkeen

Na ongeveer twee ure lyk ons anders. Entoesiasme het plek gemaak vir ’n tevrede verwondering. Ons het tyd met God deurgebring op ’n baie kreatiewe wyse. Ons het gebid en gedink, gegee en ontvang. Vir sommige was dit selfs ’n klein katarsis.

Die proses was vir elkeen ’n unieke ervaring. Ons kon dit, asook die simboliek van ons prente, met mekaar deel.

Dalk kyk ons nou met nuwe oë.
Dalk sien ons dieper.
Dalk ontspan ons meer in God se teenwoordigheid.
Dalk geniet ons Sy wondergawes in die natuur opnuut.
En dalk onthou ons weer die patroontjies binne-in elkeen van ons se lyf.

Leonie Joubert

Premiergemeente