‘n Storie van ‘n klein gemeente wat oorleef
“Die Here se hand en hart is hier” so vertel Margaret Ueckermann van Kragveld gemeente. Kragveld is een van die Oostelike Sinode se kleinste gemeentes met slegs 28 amptelike belydende lidmate en 5 dooplidmate. Op die vraag hoe hulle nog bestaan, kom die antwoord maklik – “Ons bestaan omdat almal soos familie is. Ons gee om vir mekaar en is lief vir mekaar!”
Kragveld het tot en met 2017 ‘n voltydse pastorale hulp gehad, maar maak deesdae van aflospredikante gebruik. Ds Nico Swart is ‘n gereelde prediker en die mense hou van hom. Die boere in die omgewing hou ook daarvan dat die eredienste eers om 10:30 op ‘n Sondag begin. Hulle nooi dan sommer hul bure, wat nie lidmate is nie, saam. So gebeur dit dan dat daar sommer 40 persone ‘n erediens bywoon. Só het ‘n boer se vrou ‘n vorige Sondag afgeskilde turksvye saamgebring wat almal toe saam met tee kon geniet, terwyl daar lekker gekuier is.
Daar word moeite gedoen om die kinders welkom te laat voel met ‘n spesiale hoekie by die teetafel waar koeldrank en suigstokkies uitgepak word na die diens. Sommige Sondae bak Margaret voor kerk muffins, sommer eenvoudig, en dan eet almal heerlik saam na die erediens – eetgoed werk!!!!

Kersdag was spesiaal
Kersdag 2024 was ‘n historiese oggend. Ds Swart het gepreek en vir eerste keer in 12 jaar het Kragveld gemeente ‘n erediens op Kersoggend gehad. Die diens was sommer vroeg die oggend, alreeds om 07:00. ‘n Kersboom is voor in die kerk opgeslaan en met liggies versier – spesiaal vir die kinders! Margaret het wortelkoek cupcakes bestel en saam met tee na die erediens bedien. Van die boere het koeksisters gebring. Die tafels is mooi gemaak met stringe blinkers en blomme uit Margaret se tuin. Dit was ‘n heerlike oggend!
Ds Swart se preke en sy sagte aanslag vind by baie mense aanklank. Hy help met huisbesoek, waar daar behoefte is en mense neem vrymoedigheid om hom direk te kontak. Hy help ook met hospitaalbesoek en ouetehuisbesoeke. Vir hierdie gemeente werk dit goed en daar is ‘n goeie verhouding tussen die dominee en die kerkkantoor.
“Ons stel belang en probeer om dáár te wees vir mekaar – daar is eintlilk geen magic nie! Ons is net ‘n gelukkige groepie wat mekaar aanvaar – almal as spesiaal!”
– Margaret Ueckermann