Ons tweede Klein Gemeente Werkswinkel het op 18 Februarie by die gemeente Belfast se Dullstroom-kompleks plaasgevind. Hierdie keer was dit die gemeentes vanuit die ringe van Laeveld, Barberton, Middelburg, Witbank en Lydenburg se beurt.
Ons is ontvang met tipiese Dullstroom weer: mistig, koud, nat… Dit het die 30 leraars en lidmate nie afgeskrik nie. Die gasvryheid van die gemeente se vrouelidmate het die koue weggedryf met koffie, eetgoed en ‘n heerlike bobotie vir middagete.
Wat doen ons by so ‘n werkswinkel? Leiers uit die klein gemeentes kom bymekaar om te besin oor drie vrae. “Wie is ons?” “Wat is ons roeping nou?” “Hoe gaan ons ons roeping prakties uitleef?”
Ons werk deur Paulus se gebed aan die Efesiërs 3:14 – 21. As daar enige gedagte was aan moedeloosheid en negatiwiteit, waai Paulus se woorde dit weg. Ons het ons bestaan as geloofsgemeenskap aan God te danke. Hy kan meer doen as wat ons kan bid of dink…
Die realiteite vir ons kleiner gemeentes is een van minder mense, gemeenskappe wat swaar trek, finansies wat knyp, gemeentes sonder leraars, veiligheid en ‘n moeilik-sigbare visie vir die pad vorentore.
Dis ‘n groot ervaring om te hoor hoedat die gesprek skuif na een wat gaan oor moontlikhede, geleenthede, alternatiewe en eienaarskap neem van die bediening. In ‘n groepsgesprek sê een van die groepe: “ons grootste bate is die feit dat ons klein is.” Klein gemeentes se lidmate en gemeenskap leef naby aan mekaar, sien mekaar, ken mekaar…
Tielman Roux, leraar van Hendriena, het ons vertel van die reuse skuif in hulle gemeente-wees in die afgelope jare. Hier is ‘n gemeente wat van die grond af opgestaan het, ernstig besin het oor hulle rol as gemeente – en óók hulle plek in die groter kerkomgewing én in hulle gemeenskap. Ons is die middag terug na ons huise toe met ‘n nuwe oortuiging dat God met ons klein gemeentes ‘n pad loop. Alles is nog nie mooi duidelik nie. Ons moet nuwe inisiatiewe gaan ondersoek. Die kerk van die Here – soos in ons kleiner gemeentes gesien – loop hierdie pad met geloofsmoed en ‘n diep oortuiging oor die Vader “aan Wie die hele gemeenskap van gelowiges sy bestaan te danke het…”

– Francois Retief