Ringe en hulle dinge: Hoe Ringsdiensrade gemeentes kan bemagtig om die koninkryk van God sigbaar te maak

Ringe en hulle dinge: ’n Uitnodiging aan elke Ringsdiensraad

Waarom die verhouding tussen gemeentes saak maak

Tans vergader baie van ons Ringe – en hierdie verhouding tussen gemeentes is kosbaar. ’n Ring bring ’n verskeidenheid gemeentes bymekaar: groot en klein, stedelik en landelik, met verskillende bedieningsmodelle, aantal leraars en finansiële vermoëns. Vir baie Ringe beteken hierdie tyd ook die kies van nuwe leierskap.

Die kernroeping van ’n Ringsdiensraad

Prof. Hannes Knoetze het onlangs tydens ’n gesprek oor kleiner gemeentes ’n belangrike waarheid uitgelig. Hy sê:

“Die roeping van ’n Ringsdiensraad is om deurlopend te vra: Hoe kan ons as Ring help dat elkeen van ons gemeentes die koninkryk van God in hulle gemeenskappe laat kom?

Hierdie vraag som die kernfunksie van die Ring én die Ringsdiensraad op.

Meer as net krisisbestuur

Te dikwels hoop Ringsdiensrade net dat daar nie ’n probleem in ’n gemeente ontstaan wat hanteer moet word nie. Probleme steel energie en kan die leierskap se fokus wegneem.

Maar die Ring kan soveel meer doen.

Fasiliteer nuwe energie en visie

Elke gemeente het ’n verantwoordelikheid om oor hulle roeping en bediening te besin – iets wat nie altyd maklik is nie. Hier speel die Ring ’n sleutelrol: om hierdie proses te fasiliteer en positiewe energie te ontsluit.

Daar is talle verhale van gemeentes wat nuwe fokus en visie ontdek het toe hulle gehelp is om, vanuit die Woord en hulle eie konteks, oor die doel van hulle teenwoordigheid in die gemeenskap te besin.

’n Uitdaging vir julle Ring

Wil julle nuwe energie in julle verband as Ringsgemeentes sit? Begin hier:

Herkou hierdie vraag saam: Hoe kan ons as Ring help dat elkeen van ons gemeentes die koninkryk van God in hulle gemeenskappe laat kom?