Belangrike inligting vir Huweliksbevestigers
Nuwe prosedures bevestig deur Binnelandse Sake
Die Departement van Binnelandse Sake het bevestig dat die ou BI-vorms vir huweliksregistrasie uitgefaseer is en vervang is met nuwe DHA-vorms. Op hierdie vorms word nou ID-foto’s en vingerafdrukke van die betrokke persone aangebring.
Inhandiging van huweliksregisters
Alle huweliksbevestigers is verantwoordelik om die huweliksregister-afskrifte binne 5 dae ná die huweliksbevestiging by die kantoor van Binnelandse Sake (waar die bevestiger geregistreer is) in te handig.
Hierdie dokumente mag nie meer per pos gestuur word nie.
’n Huweliksbevestiger kan wel ’n gevolmagtigde persoon aanwys om die afskrifte namens hom/haar by die naaste Binnelandse Sake-kantoor in te dien.
Kwitansievorm en dokumente wat saam ingedien moet word
Die huweliksregister-afskrifte moet altyd vergesel word van ’n voorgeskrewe kwitansievorm.
Die proses is soos volg:
-
- Vul en onderteken die toepaslike kwitansievorm.
- Meer as een huwelik kan op dieselfde vorm ingevul word.
- Maak ’n afskrif van die voltooide kwitansievorm sodat beide vorms deur Binnelandse Sake gestempel en onderteken kan word. Só het beide die huweliksbevestiger en Binnelandse Sake ’n gestempelde afskrif vir hul rekords.
Die volgende dokumente moet saam met die kwitansievorm ingedien word:
-
- Afskrifte van die huweliksregisters
- Fotostate van ID-dokumente van die huwelikspaar, twee getuies en die huweliksbevestiger. (By sommige kantore word afskrif van die aanstelling as huweliksbevestiger verlang)
- ’n Afskrif van die prokureursbrief oor huweliksvoorwaardes (HVK) (indien van toepassing). By sommige kantore is die nuutste verwagting dat die HVK voor die bevestiging van die huwelik geregistreer sal wees. HANIS verifikasie van huwelikstatus van beide partye, om te bevestig dat hulle ongetroud is, moet vooraf verkry word.
- Indien een of albei partye geskei of ’n weduwee/wewenaar is: fotostate van die egskeidingsbevel of doodsertifikaat
- Indien een of albei partye minderjarig (onder 18 jaar) is: die vorm BI-32 vir ouerlike toestemming
Let wel: Volgens die Kinderwet word persone onder 18 jaar as minderjarig beskou. Die BI-32-vorm is dus slegs nodig indien een van die partye jonger as 18 is.
Bevestiging deur Binnelandse Sake
Die amptenaar van Binnelandse Sake mede-onderteken die oorspronklike kwitansievorm én die afskrif, en neem die dokumente in ontvangs.
Die gestempelde afskrif word aan die huweliksbevestiger of sy/haar gevolmagtigde terugbesorg.
Dit is goeie praktyk om ook ’n kopie van die kwitansievorm aan die egpaar te oorhandig.
Let wel: Vir hierdie prosedure word huweliksbevestigers beskou as ’n verlengstuk van Binnelandse Sake se amptenare.
Algemene inligting
Wanneer is ’n huwelik wettig?
’n Huwelik is wettig en geldig vanaf die oomblik dat die huweliksregister tydens die seremonie deur die vyf vereiste persone — die egpaar, twee getuies en die huweliksbevestiger — onderteken is.
Bevoegdheid en aanstelling
-
- Slegs persone met predikantsbevoegdheid, wat as huweliksbevestigers deur Binnelandse Sake aangestel is na die eksamen geslaag is kan as huweliksbevestigers optree.
- Emeritus predikante wat ná aftrede hul aanstelling wil behou, moet deur die betrokke sinodale kantoor daarvoor aansoek doen.
Bywerking van persoonlike besonderhede
Huweliksbevestigers moet sorg dat hul persoonlike inligting altyd op datum is by beide:
-
- hul sinodale kantoor, en
- die Departement van Binnelandse Sake (soos van toepassing).
Dit word aanbeveel om afskrifte van alle ingediende dokumente saam met die kwitansievorm te behou — beide op papier en elektronies.
’n Elektroniese kopie kan ook na die Sinodehuis gestuur word vir rekorddoeleindes.
Huwelike met buitelanders
Let asseblief daarop dat die reëls vir huwelike waar buitelanders betrokke is, verander het.
Predikante van die NG Kerk mag nie meer huwelike bevestig waar een of albei partye nie Suid-Afrikaanse burgers is nie.
HUWELIKE - selfdegeslag burgerlike verbintenisse
Na die afloop van ons Sinodale Diensraad se vergadering (2/2/2022), word uitvoering gegee aan die besluite wat by ons Sinodesitting 2021 geneem is.
Die Besluiteregister is op ons webwerf beskikbaar.
Hierby aangeheg is inligting soos ontvang vanaf Gustav Claassen oor die moontlike verpligting om Burgerlike Verbintenisse te bevestig.
9/2/2022