Die toekoms van die verlede

Die Toekoms van die Verlede: ATA-konferensie 2025

 

Op 9 en 10 September 2025 het die Algemene Taakspan Argief (ATA) se jaarlikse vergadering en konferensie in Bloemfontein plaasgevind by die indrukwekkende Anglo-Boereoorlogmuseum met die Vrystaat Sinode as gasheer. Die tema vir vanjaar, “Die Toekoms van die Verlede,” het sterk deurgeklank in gesprekke oor hoe die kerk en sy argiewe die uitdagings en geleenthede van digitalisering kan aanpak.

Digitalisering van argiewe – hoop én uitdaging

Een van die groot gesprekspunte was die digitalisering van dokumente en argiewe. Dit is ’n noodsaaklike taak om geskiedenis en kennis te bewaar, maar dit bring ook groot uitdagings mee: die koste, die nodige kundigheid, toepaslike toerusting en die spasie om digitale data veilig te stoor.

Praktiese voorbeelde uit die veld

Verder het Dr. Vicky Heunis gedeel hoe die museum sy argivalia digitaliseer en argiveer, en hoe hulle op hoogte bly van nuwe tendense soos die digitalisering van koerante en artikels. Gerhard Pieters van die Hervormde Kerk het vertel hoe hulle ’n digitale argiefdiens deur SharePoint ontwikkel het – ’n praktiese en inspirerende voorbeeld van hoe tegnologie gemeentes kan bemagtig.

Meer as net vergader

Na ’n toer deur die Oorlogsmuseum is die deelnemers hartlik ontvang by die NG Kerk Vrystaat se Sinodale kantoor, waar almal ’n blik op hul argief kon kry. Die dag is heerlik afgesluit met ’n gesellige ete en goeie geselskap.

Op die tweede dag het die ATA-vergadering voortgegaan met verteenwoordigers van al die NG Kerkargiewe, asook die Gereformeerde en Hervormde Kerk se argiewe. Daar is gesels oor die invloed van POPIA en PAIA op die kerk en sy argiewe, en hoe gemeentes ondersteun kan word om aan wetlike vereistes te voldoen. Belangrike gesprekke het ook gefokus op hoe argivalia ingesamel, digitaal bewaar en volgens kerkreg en wetgewing beskikbaar gestel kan word.

By só ’n konferensie word dit weer duidelik dat die Argief se werk nie net is om die verlede te bêre nie, maar om dit lewendig en toeganklik te hou. Só word dit ’n bate – nie net vir die kerk nie, maar ook vir die breër gemeenskap en vir die toekoms.

Annelize Meyer

Argiefbestuurder, Oostelike Sinode