’n Gemeente wat ruimte maak vir almal

’n Gemeente wat ruimte maak vir almal

Hoe Communitas NG Kerk Midrand groei saam met die gemeenskap rondom hulle

In gesprek met ds. Heinrich Momberg, deur Annelize Meyer

In Midrand, waar Johannesburg en Pretoria mekaar byna raak, leef mense van verskillende tale, kulture en agtergronde daagliks langs mekaar. Dit is ’n plek van beweging, verandering en ontmoetings. Dit is juis hier waar Communitas NG Kerk Midrand al hoe duideliker ontdek wat dit beteken om werklik kerk vir die gemeenskap te wees.

Vir ds. Heinrich Momberg, wat byna drie jaar lank predikant by die gemeente is, is dit nie bloot ’n storie van aanpassing nie. Dit is eerder ’n storie van hoe God se roeping al lank reeds in die gemeente se DNA ingebou is.

Van Halfweghuis tot Communitas

Die gemeente, oorspronklik bekend as NG Kerk Halfweghuis, het sowat 60 jaar gelede ontstaan vanuit NG Kerk Olifantsfontein. Die naam “Halfweghuis” vertel reeds iets van die konteks: ’n plek tussen Pretoria en Johannesburg, ’n tussenstop, ’n plek waar mense aankom, asem skep en weer verder reis.

Met verloop van tyd het Halfweghuis ontwikkel tot Midrand — nie meer net ’n dorp tussen twee stede nie, maar ’n stad in eie reg. En soos Midrand gegroei het, het dit ook ’n smeltkroes van mense geword: verskillende kulture, tale, ekonomiese realiteite en gemeenskappe wat dieselfde ruimte deel.

In 2015–2016 het die gemeente hul oorspronklike kerkgebou en gronde verkoop en na Jupiterlaan in Crowthorne verhuis. Saam met dié skuif het daar ook ’n droom sterker gestalte begin kry: dat die kerkterrein méér as net ’n plek vir eredienste sou wees — dat dit ’n gemeenskapsruimte sou wees.

Daarom dra die terrein vandag die naam Communitas.

“Die droom was om die grond te laat behoort aan almal wat dit mag nodig hê,” vertel ds. Heinrich.

Die argitektuur van die nuwe kerkgebou weerspieël juis daardie ingesteldheid. Dit lyk nie soos ’n tradisionele kerkgebou nie, maar eerder soos ’n oop, verwelkomende ruimte — ’n plek vir troues, funksies, dope, eredienste en byeenkomste van allerlei aard. ’n Plek waar mense kan aankom.

’n Gemeente met ’n oop hart

Volgens ds. Heinrich was Midrand nog altyd ’n gemeente met ’n hart vir gemeenskap. Selfs lank voor sy tyd het die gemeente reeds ’n diverse lidmaatskap gehad en ’n oop ingesteldheid teenoor die gemeenskap rondom hulle.

“Midrand was nog altyd divers,” sê hy. “In baie opsigte is dit amper soos die gemeente in Korinte waaroor Paulus geskryf het — ’n plek waar verskillende mense en verskillende werklikhede bymekaar kom.”

Dié diversiteit is nie net sigbaar in kultuur en taal nie, maar ook in ekonomiese werklikhede. En juis daarom, glo hy, kan ’n gemeente in Midrand nie anders as om daardie werklikheid in sy bediening te begin weerspieël nie.

Van Engelse dienste na gemengde eredienste

Sedert ds. Heinrich se koms in 2023 het die gemeente op ’n natuurlike en geleidelike manier begin verander en groei. Een van die duidelikste tekens hiervan was die groeiende behoefte aan Engelse bediening. Teen die einde van 2024 het die kerkraad besluit om elke tweede Sondag ná die Afrikaanse diens ’n Engelse diens aan te bied. Dit was ’n geloofstap. Niemand het presies geweet hoe dit sou werk nie, maar daar was ’n duidelike gevoel: begin net, en kyk wat God doen.

Die Engelse dienste het egter iets anders uitgewys. Die behoefte was nie noodwendig aan ’n “Engelse diens” nie, maar eerder aan ’n ruimte vir gemengde families en diverse mense om saam tuis te voel. “Ons het besef ons het nie noodwendig Engelse groepe mense nie,” verduidelik hy, “maar ons het gemengde families.”

Die gemeente het toe wegbeweeg van die idee van afsonderlike Engelse dienste en begin eksperimenteer met gemengde eredienste — waar Afrikaans en Engels albei natuurlik deel van die liturgie word. Liedere, aanbidding en bediening het begin beweeg na ’n meer 50/50 balans tussen die twee tale.

Teen 2025 het dit duidelik geword dat bykans elke diens reeds Engelse lidmate insluit. Die besluit het toe organies gevolg: elke Sondag word nou as ’n gemengde diens ingerig.  “Die dienste het organies gegroei om die mense van die gemeente, en daarby die mense van die gemeenskap, te reflekteer,” sê ds. Heinrich.

’n Verandering wat saam gestap is

Wat opval in hierdie verhaal, is dat daar nie sprake is van groot konflik of weerstand nie. Volgens ds. Heinrich is dit waarskynlik omdat die gemeente reeds die “gees” van Midrand in hul daaglikse lewe beleef.

“Die Afrikaanse mense van Midrand is halfpad Engels,” sê hy glimlaggend. “So baie van hulle lewe speel reeds in Engels af. Dit was dus nie ’n besluit wat die kerkraad net geneem het nie. Dit het eintlik ontstaan deur die mense wat elke Sondag kerk toe gekom het.”

Hierdie openheid en deursigtigheid het gehelp dat die gemeente saam kon droom en saam kon beweeg.

’n Persoonlike getuienis van inklusiwiteit

Vir ds. Heinrich is hierdie bediening nie net iets wat hy teologies verstaan nie — dit is ook iets wat hy persoonlik leef. Danell, sy vrou, is van ‘n ander kultuur. Hy beskryf hul huwelik nie in eerste plek as “multikultureel” nie, maar eenvoudig as ’n verhouding van liefde, verbondenheid en menswees.

Juis daarom besef hy ook die simboliese waarde daarvan in ’n gemeente soos Midrand. Wanneer mense hulleself op een of ander manier in hul predikant en gemeente verteenwoordig sien, voel hulle dikwels sommer vanself meer welkom.

Vir hom gaan dit uiteindelik nie oor kultuur as sodanig nie, maar oor prioriteit: liefde vir Jesus en gehoorsaamheid aan Sy wil.

Die Hemeltuin: ’n tuin van hoop

Nog ’n besonderse deel van die gemeente se verhaal is hul groeiende gemeenskapstuin-projek, bekend as die Hemeltuin.

Die projek het begin momentum kry nadat ’n tonnel op die terrein, wat voorheen deur ’n kwekery gebruik is, weer beskikbaar geraak het. Die vraag was eenvoudig: verhuur hulle dit weer, of gebruik hulle dit self?

Die antwoord was vir die gemeente duidelik. Hulle het begin droom van ’n funksionele tuin waar groente en ander produkte verbou kan word — eers vir verkoop aan dié wat dit kan bekostig, en mettertyd ook vir skenking aan dié wat dit nodig het.

Die groter droom is dat die Hemeltuin eendag só oorvloedig sal wees dat vars groentepakkies gereeld aan mense in nood uitgedeel kan word.

Die bediening is nog vroeg in sy ontwikkeling, maar dit groei. Iemand het reeds hand opgesteek en verantwoordelikheid vir die bediening geneem.  Elke tweede Saterdag meld gemeentelede aan en word daar gewerk om bossies uit te trek, te spit, plant en beddings voor te berei.

Vir die gemeente is die tuin meer as net ’n praktiese projek. Dit is ook ’n geestelike simbool.

“Ons weet dat dit nie deur ons hande is nie, maar slegs God s’n, dat alles wat in die tuin groei, meer as genoeg sal wees vir dié wat dit ontvang,” sê ds. Heinrich.

Die naam Hemeltuin sluit aan by die gemeente se kombuisbediening, Hemeldak, maar dra ook dieper betekenis. Dit herinner aan God se sorg, sy voorsiening en die roeping om sy skepping te bewaar en te dien.

’n Kerk wat ruimte maak vir God se mense

Vir ds. Heinrich lê die groter betekenis van die veranderinge by die gemeente daarin dat die kerk al hoe meer ontdek wat dit beteken om ’n gemeente te wees waar alle mense werklik tuis kan kom. Hy glo die vraag is nie of mense eers na die kerk toe moet kom voordat hulle akkommodeer word nie. Die vraag is eerder hoe die kerk reeds vooraf ruimte maak vir die mense wat God stuur.

“Die land se mense smag na die genade en hoop van ons lewende God. Hoekom kan dit nie óns wees wat dit vir hulle bring deur ons kerkwees en ons Christenwees nie?”

Hierdie insig het vir Communitas NG Kerk Midrand gehelp om weer vars te kyk na wat kerkwees werklik beteken:

Kerkwees gaan nie oor ras, taal of kultuur nie. Kerkwees gaan daaroor om vir mense ’n tuiste te wees — ’n ruimte waar hulle God kan ontmoet.

Hoop in die diversiteit

In ’n land waar geskiedenis, trauma, ongelykheid en verdeeldheid steeds swaar weeg, glo ds. Heinrich die kerk het ’n unieke geleentheid om ’n brug te bou. “Daar is hoop in die diversiteit,” sê hy.

Hy sien reeds hoe mense in die gemeente meer oop begin raak teenoor mekaar. En hy glo dat wanneer gemeentes werklik begin leef as ruimtes van ontmoeting, aanvaarding en aanbidding, kan iets van God se versoenende werk sigbaar word. “Dit is nie die werk van die kerkraad nie,” sê hy. “Dit is die Here wat ons bymekaar bring.”

’n Roeping wat verder strek

Communitas NG Kerk Midrand se storie eindig nie by eredienste of die Hemeltuin nie. Die gemeente gee ook nuwe momentum aan ander bedieninge, waaronder:

  • Koskas, waar kospakkies vir behoeftiges voorberei word
  • Bybelprojek, waar Bybels aan mense in nood versprei word — veral in hul eie taal
  • Kairos-tronkbediening, waarin die gemeente al hoe meer betrokke raak by die begeleiding en toerusting van mense in en ná hul tyd in die tronk

Deur al hierdie bedieninge loop daar een duidelike lyn: om ’n gemeente te wees wat nie net bestaan vir homself nie, maar vir die gemeenskap, die stad en die wêreld.

“Deur die genade en krag van ons Here Jesus Christus, is ons geroep om ons gemeenskap, ons land, ons wêreld te dien.”

Ds Heinrich Momberg

Leraar Communitas NG Kerk Midrand