’n Jaar van feesviering: Gemeente vier 120 jaar van genade en gemeenskap
Die afgelope jaar was ’n besondere feesjaar vir die gemeente, met die hoogtepunt op 13 Oktober, toe die gemeente sy 120ste bestaansjaar gevier het. Volgens dr. Tertius Erasmus, huidige predikant van die gemeente, was dit ’n jaar waarop met groot dankbaarheid teruggekyk word.
Die jaarleuse uit Johannes 1:16 het die toon vir die hele feesjaar aangegee: “Uit Sy oorvloed het ons genade op genade ontvang.”
“Ons het doelbewus ruimte geskep om mense deel te maak van hierdie mylpaal,” vertel dr. Erasmus. Ses vorige leraars wat nog leef, is uitgenooi om op verskillende Sondae te kom preek. Die geliefde C7-sanggroep, wat reeds 25 jaar bestaan, het ook ’n spesiale erediens saam met die gemeente gevier.
As deel van die feesjaar is ’n feesjaarblad saamgestel, en daar is travel mugs met die feesembleem verkoop. Elke Sondag is daar ook ’n uittreksel uit ou kerknotules in die weekblad geplaas — soms in Nederlands — wat lidmate met ’n glimlag laat terugkyk het na die gemeente se vroeë jare.
Die naweek van 11 en 12 Oktober was die feestelike hoogtepunt. Onder ’n groot markiestent is daar saam gekuier met pannekoek, worsbroodjies, musiek, ou motors en motorfietse. ’n Tradisionele muntlegging het op nostalgiese wyse die verlede laat herleef. Skole het deelgeneem met optredes, en presies eenuur die middag is ’n os op die spit aangesny en saam geniet.
Op die Sondag is Nagmaal gevier, waarna ’n 120-jaar-gedenksteen onthul is. Die fees is afgesluit met tee en 400 pragtig versierde cupcakes, wat met liefde deur lidmate voorberei is.
“Agter die skerms is daar hard gewerk,” sê dr. Erasmus, “maar dit was ’n voorreg om deel te wees van ’n jaar waar ons God se oorvloed so tasbaar beleef het. Ons glo vas Sy genade sal met ons bly.”