Amersfoort gaan stap saam
‘n Naweek waar natuur, geloof en gemeenskap nuwe betekenis kry
Die naweek van 20–22 Maart 2026 het ‘n groep lidmate van NG Gemeente Amersfoort hul stapskoene aangetrek vir ‘n besondere wegbreek by High Five Staproetes, met Candlewood Kamp as basis.
Die groep het uit mense van verskillende ouderdomme bestaan, wat die naweek meer opwindend en soveel ryker gemaak het. Die verblyf was eenvoudig – sonder elektrisiteit, met warm “donkie-water”-storte, gedeelde geriewe en etes wat saam voorberei is. Juis hierdie eenvoud het ‘n besondere gevoel van saamwees geskep.
Fotos voorsien
Tussen die blomme, bome, water en oop ruimtes het God se skepping opnuut tot die groep gespreek. Gesprekke het spontaan gevloei, daar is baie saam gelag, en selfs ou vriende het nuwe dinge van mekaar ontdek.
Saterdag het die meer avontuurlustiges die 8 km-roete aangepak wat verby die voet van die Uitkomst-waterval kronkel. Ander het verkies om ‘n korter afstand te stap of rustig by die kamp te ontspan. Elkeen kon die naweek op sy of haar eie manier beleef, maar almal het met dieselfde gevoel huis toe gegaan – dankbaarheid vir die natuur, vir mekaar en vir die geleentheid om saam stil te word.
Elke aand het die groep die dag afgesluit met ‘n kort Skriflesing en gebed.
Sondagoggend is die naweek met ‘n rustige 3 km-staproete afgesluit. Met ligter harte, nuwe energie en kosbare herinneringe het die groep teruggekeer na Amersfoort – reeds met die besluit dat hierdie stapnaweek beslis weer volgende jaar sal plaasvind.
Die bespreking is deur Anvie Ventures gereël. Besoek gerus hul webblad.