47 jaar later … ons erfenis is vir ons mooi!
Van die eerste voetspore in 1979 tot die geloofsfamilie wat ons vandag is.
Op 2 November 1979, 47 jaar gelede, het die Oostelike Sinode, destyds bekend as die Sinode van Oos-Transvaal, vir die eerste keer as sinode gekonstitueer. Dit was die begin van ’n nuwe hoofstuk in die geskiedenis van die NG Kerk – ’n geloofspad wat oor byna vyf dekades gevorm sou word deur mense, gemeentes, verhoudings en die getrouheid van God.
Die ontstaan van die nuwe sinode het gevolg op ’n tydperk van besondere groei. Met 16 nuwe gemeentes en ’n toename van 15 617 lidmate is die weg gebaan vir die verdeling van die destydse Sinode van Noord-Transvaal. Altesaam 81 gemeentes het deel van die nuwe Sinode van Oos-Transvaal geword, terwyl 120 gemeentes by Noord-Transvaal gebly het.
Teen die agtergrond van Pretoria se reën en pers jakarandabloeisels is die nuwe sinode met hoop en verwagting begroet. Die woorde van Psalm 16:6 het besondere betekenis gekry:
“Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”
Koerante het die stigting van die nuwe sinode aangekondig
Koerante het die stigting van die nuwe sinode aangekondig.
Eertse moderatuur vir die Sinode van Oos-Transvaal.
Daar was ook die gebed dat die nuwe sinode sou groei en bloei tot eer en verheerliking van God.
’n Geloofspad deur die jare
Vier jaar ná die konstituering het die eerste volwaardige sinodevergadering plaasgevind. Dié vergadering het tien dae geduur, met ’n agenda van 455 bladsye! Altesaam 144 predikante en 151 ouderlinge uit 89 gemeentes het daaraan deelgeneem. In 1991 is besluit om sinodevergaderings tot vyf dae te verkort.
Vandag lyk ons vergaderings, werkswyses en kommunikasie heelwat anders. Tog bly die hart van ons saamwees dieselfde.
Reeds in die stigtingsjare is die nuwe sinode bemoedig met die woorde van 1 Korintiërs 16:13–14:
“Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk! Laat alles by julle in liefde geskied.”
Hierdie woorde bly vandag net so betekenisvol. Deur veranderende tye, nuwe uitdagings en verskillende seisoene heen, word ons steeds geroep om in geloof vas te staan en alles in liefde te doen.
Meer as ’n struktuur – ’n geloofsfamilie
Deur die jare het die beeld van ’n geloofsfamilie al sterker deel van die Oostelike Sinode se identiteit geword.
In die 2009-Feesbundel is hierdie familiemetafoor op ’n besondere manier verwoord: om diensbaar aan gemeentes te wees, nader aan mekaar te beweeg, by mekaar te leer en teenoor mekaar te getuig. Kerkordelike en finansiële strukture moet hierdie verhoudings dien en ondersteun, eerder as om dit te oorheers.
Dit herinner ons dat die kerk soveel meer is as vergaderings, besluite en strukture. Dit is mense wat saam glo, saam dien, saam leer en mekaar ondersteun. Elke gemeente, bediening en persoon wat oor die afgelope 47 jaar deel van hierdie verhaal was, het op ’n unieke manier help bou aan die geloofsfamilie wat ons vandag ken.
Hierdie woorde bly vandag net so betekenisvol. Deur veranderende tye, nuwe uitdagings en verskillende seisoene heen, word ons steeds geroep om in geloof vas te staan en alles in liefde te doen.
Ons erfenis is mooi. Ons roeping leef voort!
Met die onlangse 22ste sinodevergadering en die aanbreek van ’n nuwe ampstermyn staan ons opnuut op die drumpel van ’n nuwe seisoen. Ons leef in ’n wêreld wat voortdurend verander en waarin die kerk telkens opnuut moet luister, onderskei en antwoord op God se roeping.
Tog bly die fondament van ons saamwees onveranderd: ons behoort aan Christus en is geroep om sy liefde sigbaar te maak in die wêreld.
Vandag, 47 jaar later, is die familiemetafoor steeds die leidende motief van ons saamwees as gemeentes van Christus. Ons kyk met dankbaarheid terug na die voetspore van hulle wat voor ons gestap het, maar ook met hoop en verwagting na die pad wat voorlê.
Ons vier daarom nie bloot 47 jaar se geskiedenis nie. Ons vier God se getrouheid, die mense wat deel van hierdie verhaal is en die voorreg om steeds saam op pad te wees.
Ons erfenis is mooi. Ons roeping leef voort!