Swaziland uitreik

⛰️ Op berge en in dale – God se liefde in Mbita

Hoog in die berge van Swaziland, sowat 50 km van die Mahamba-grenspos, lê ’n klein gemeenskap met ’n groot geloof. Mbita – wat “kleipot” beteken in Swazi – is tuiste vir ’n groep gelowiges wat daagliks uit en in die genade van God leef.

In 2012 het ‘n boer (ook lidmaat van Debruinpark-Ermelo gemeente) saam met lidmate die eerste keer die gemeente op Mbita besoek. Hulle is genooi deur Pastor Ben, ’n plaaslike predikant wat evangelisasiewerk onder plaaswerkers in die Ermelo-omgewing gedoen het. Die besoek het ’n onvergeetlike indruk gemaak. “Op berge en in dale, ja oral is my God!” het een gemeentelidmaat uitgeroep.

’n Groot droom in ’n klein gemeente

Die gemeente van Mbita, wat hoofsaaklik uit vroue en kinders bestaan, het net een versoek gehad: “Kan julle ons help om ’n kerk te bou?”

So gebeur dit dat ’n eenvoudige staalstruktuur met ’n dak op die hoë berge verrys. In 2014 reik lidmate weer uit en word sement, steenmaakvorms, vensters en deure afgelewer. Die grootste deel van die werk word deur die vroue van Mbita self gedoen. Met hul eie hande word ’n kerk – ’n plek van aanbidding en hoop – opgerig.

Nadat die gebou voltooi is, het Pastor Ben namens sy gemeente kom dankie sê. Hy vra my toe: “Pastor Dief, what can we do for you?” Die antwoord kom maklik: “Pray for us.” waarop hy antwoord: “That we can do Pastor Dief, that we will do.”

Bid saam – Efesiërs 3:18

Op 27 Julie 2025 besoek ses lidmate van DeBruinpark-Ermelo gemeente weer Mbita. Hierdie keer bring ek, met die hulp van ’n tolk, ’n spesifieke versoek: “Bid Efesiërs 3:18 vir ons – dat ons kan begryp hoe wyd en ver, hoe hoog en diep die liefde van Christus strek.”

Toe ons groepie daarna oor die uitgestrekte berge en dale wegry, sê ek vir myself: “Hierdie mense, wat daagliks tussen hoogtes en dieptes leef, sal hierdie gebed kan bid.”

’n Storie van geloof en saamwees

Vandag staan daar in Mbita ’n eenvoudige, maar kosbare kerkgebou. Dit vertel ’n groter storie: van geloof wat bou, hande wat saamwerk en gebede wat oor grense ‘n brug bou.

God se liefde strek wyd en ver, hoog en diep – selfs tot in die afgeleë bergpaaie van Swaziland.

Besoek gerus die gemeente se Facebookblad om te sien waarmee hulle nog besig is.

Dif Ehlers

Predikant, Debruinpark-Ermelo