18 Januarie 2022
Familienuus 409
VANUIT DIE SINODEHUIS
Welkom by ons eerste uitgawe van die Familienuus vir 2022. Ons stap ‘n nuwe jaar in met vertroue, moed en ‘n diep afhanklikheid van die Here…
Ek lees Sondag weer die begin-woorde van die Tien Gebooie raak: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, die plek van slawerny, bevry het.” Die God van die verbond, die God wat die eerste tree na ons toe gee, kom verklaar Homself as ons God.
In Nuwe Testament-taal sou dit seker só kon klink: “Ek is die Here jou God. Dit is Ek wat my Seun gegee het sodat jy in ‘n geloofsverhouding met My kan leef en my Vader kan noem. Dit is Ek wat my Gees in jou hart gee om jou elke dag binne hierdie verhouding te lei en te leer. Ook in 2022 is Ek jou God…”
Francois Retief
LERAARS
Jaco Putter van Pietersburg-Noord is bevestig by Witrivier.
Teodor van der Spuy van ksm is bevestig by Moreletapark.
Rayline Coetzee is verlede jaar by Lux Mundi bevestig as Diensleraar.
Tiesie de Coning, diensleraar by ksm, vertrek eersdaags na Veritas College.
Hannes van Deventer van Silvertonkruin het ‘n beroep na Villiers aanvaar.
Gavin Meistre (emeritus) het ‘n termynpos by Coligny aanvaar.
Ons kollega by Pierre van Ryneveld, Anandie Greyling, het in die vakansiedae slegte nuus oor haar gesondheid ontvang. Sy het toestemming gegee dat ons hier kan noem dat sy gediagnoseer is met limfoom kanker. Haar dokter is baie positief oor haar prognose. Ons bid vir Anandie, haar mense en die mediese span.
SINODESITTING
Ons het van die verversings wat met die Sinodesitting oorgebly het aan Huis Silversig geskenk. Dit bly tog lekkerder om te gee as om te ontvang…
Goeiedag
Ek wil graag die geleentheid vat om julle te bedank namens die inwoners en bestuur van SAVF Huis Silversig.
Baie dankie vir die donasie van koekies en beskuit wat geskenk is op die 24 November 2021.
So ‘n lekker bederf is genoeg om enige iemand se dag op te kikker. Dankie dat julle bydra tot die geluk van ons inwoners.
rd innig baie waardeer.
Geseënde Kersfees en voorspoedige Nuwejaar!
Vriendelike Grote,
Amónique Pretorius
Maatskaplike Werker
SAVF HUIS SILVERSIG
012 8048064/6/7
ONS PREDIKANTEKONFERENSIE
Ons maak weer so. Die week direk na Pinksterfees gaan ons Skukuza toe vir ons jaarlikse asemskep en toerusting oor ‘n aktuele onderwerp. Ons finaliseer die spreker en tema eersdaags.
Aangeheg is die skrywe met inligting asook die inskryfvorm.
WêRELDBIDDAG VIR VROUE
Op 4 Maart word die Wêreldbiddag vir Vroue in Suid-Afrika gehou. Dié Biddag is ‘n wêreldwye ekumeniese beweging van Christenvroue, -mans en -kinders wat elke eerste Vrydag in Maart saam ‘n gebedsketting in meer as 170 lande vorm. Dit strek oor grense en bind mense uit verskillende rasse, kulture en kerke tot groter onderlinge begrip en toewyding. Die Wêreldbiddag vir Vroue bied vroue wêreldwyd verskeie geleenthede, onder andere om hulle geloof in Jesus Christus te bevestig. Dit bied gelowiges ook die geleentheid om versterk te word deur die geloofservaring van Christene uit ander lande en kulture. Ons geniet dan ook die voorreg om ander se laste te help dra deur saam met hulle en vir hulle te bid. Die tema word elke jaar deur vroue van verskillende lande gekies. Die tema vir 2022, “Ek weet wat Ek vir jou beplan”, is gekies deur die vroue van Engeland, Wallis en Noord-Ierland. Kom ons as vroue neem die inisiatief om op 4 Maart by die werk, skool of in ons gemeente tyd af te staan om saam met vroue van oor die wêreld te verenig in gebed. Vir volledige inligting, lees hier.
CMR
Ons kyk saam terug oor 2021.
ONS WEBWERF EN SINODEHUIS-PERSONEEL
Onthou asseblief om die inligting op ons webwerf te benut www.sinoos.co.za .
Leraars en kerkkantore kan met groot vrymoedigheid die personeel kontak om advies, raad, hulp, ondersteuning – ons help graag. Die personeel is in die Sinodehuis op hulle pos. Ons telefoonnommer is 012 804 9543. Die weerlig het ons skakelbord uitgeslaan, maar ons kon van die lyne weer aan die werk kry. Probeer asseblief weer as jou oproep nie die eerste keer deurkom nie.
PREDIKANTE- EN AMPTENARE PENSIOENFONDS
Theo Smith het ‘n skrywe vanaf die Pensioenkantoor gestuur met die besonderhede oor die heffing van R100 wat vanaf 1 Julie 2021 gehef word van elke deelnemende werkgewer van die Pensioenfonds. Let op: ‘n gemeente wie se drie predikante en twee kantoordames almal aan die Pensioenfonds behoort, is steeds net één werkgewer – en betaal dus net R100 per maand.
Hierdie geld word gebruik om die bedryf van die kantoor van die Pensioenfonds te finansier. Betaal asseblief die bedrag maandeliks of eenmalig vir ‘n jaar oor in die rekening soos op die skrywe aangedui. Baie belangrik: moet nie die oorbetaling aan die Sinode doen nie.
Vakature: Orrelis Skuilkrans NG gemeente (Pretoria)
Skuilkrans is ‘n makro-gemeente in die Ooste van Pretoria.
Skuilkrans het ‘n vakature vir ’n vindingryke en aanpasbare oggendorrelis wat verantwoordelikheid sal aanvaar vir die uiteenlopende aanbiddingsbehoeftes van ‘n groot gemeente en haar/sy liefde vir musiek in so pos kan uitleef.
Die pos behels die volgende:
- Inspirerende begeleiding van gemeentesang
- Alle voorbereiding rondom die oggenddiens wat ’n meer klassieke karakter het en met ’n drie-manuaal SAOB-orrel begelei word.
- Bystand aan leraars met die opstel van die liturgie en uitsoek van gepaste liedere
- Musikale versorging van ander geleentheidsdienste.
Die persoon moet oor die nodige musikale opleiding en rekenaarvaardigheid beskik.
Ervaring in begeleiding van ’n gemeente is ’n vereiste.
Koorsang/koorafrigting, asook ensemblespel met ander sangers en instrumentaliste is ’n aanbeveling.
Die persoon moet verkieslik ’n lidmaat van Skuilkrans word en deel wees van die gemeente.
Vergoeding: Onderhandelbare salaris met SAKOV-skale as riglyn afhangende van kwalifikasies en ervaring.
Die gemeente behou die reg voor om nie ‘n aanstelling te maak nie.
Sluitingsdatum vir aansoeke: 31 Januarie 2022
Navrae: Ds Gerrie Bodenstein 078 509 6754
Betsie Keun: 082 454 6060
Stuur CV met referente na info@skuilkrans.co.za
PRODUKTE en TOERUSTING
BybelMedia se webwerf bevat baie inligting oor die produkte wat beskikbaar is. Kyk spesiaal na die 2022 Dagboeke.
Excelsus is die voertuig van die Teologiese Fakulteit waardeur leraars toegerus word. Die 2022 jaarprogram word hier aangeheg . Ons heg ook inligting oor die Dink nuut oor jou bediening en Nuut in die bediening – kursusse aan. Ons het ook ‘n skakel na die Lewe voor en na aftrede-kursus.
Covid-19 hou ons steeds besig. Hierdie kursus help ons daaroor te dink.
EERSTEJAARSKAMP UNIVERSITEITSOORD
Ons heg die plakkaat weer hier aan. Gou spring!
VERJAARSDAE
Hartlik geluk aan elkeen wat tot 31 Januarie 2022 verjaar. Seënwense!
PREDIKANTE
18 Januarie – Anandie Greyling, Pierre van Ryneveld
19 Januarie – Kemp Anton, Middelburg
19 Januarie – Nel Marius, Witbank-Klipfontein
23 Januarie – Pretorius Sterns, Hazyview
24 Januarie – Grobler Hannes, Witbank-Vallei
24 Januarie – Pretorius PC, Moreletapark
24 Januarie – du Toit Petro, Kloofsig
EMERITI
23 Januarie – Wandrag Jan, Phalaborwa 2008
24 Januarie – Kendall Billy, Letsitele 1999
24 Januarie – Christo de Klerk, Monumentpark-Wes 2012
28 Januarie – Bester Wessel, IRM Hefsiba 2001
GEMEENTES
19 Januarie – Premiermyn (102)
20 Januarie – Letsitele (66)
29 Januarie – Rayton (51)
Francois Retief
Uitvoerende Amptenaar
uitamp@sinoos.co.za