29 Junie 2021

Familienuus 400

[Sedert 23 September 2003]

 

VANUIT DIE SINODEHUIS

Goeiedag. Ons as gelowiges is in ‘n situasie waar ons baie minder weet wat om te doen en wat om te sê as waarmee ons gemaklik is. Ons hoef nie hieroor skuldig te voel nie – dis nie ons skuld of fout nie. Ons weet net nou dat ons nog nooit al die antwoorde op die vrae wat die lewe na ons toe gooi, gehad het nie.

Die verhale wat vertel word van mense se gehyg na asem, dokters wat moet kies wie leef en wie nie, die doodse moegheid na liggaam en gees… dis verskriklik.

Dis vir my opvallend hoe mense se gesprekke hieroor dikwels vasval by “waar het jy dit gekry?” en dus “wie se skuld is dit dat jy siek geword het?” Sinnelose vrae sonder antwoorde.

Baie meer aangrypend is die verhale oor ‘n vriend wat aan die deur klop met iets te ete of mense wat buite ‘n hospitaal bid vir die siekes en die mediese personeel binne die hospitaal.

My en Lizna se siekwees het ons weer intens dankbaar gemaak oor die voorreg om te kan lewe. Ek en sy is oorval deur die liefde en omgee van vriende en familie. Sjoe, dit was oorweldigend… Baie dankie.

Francois Retief

 

SINODEHUIS

Die Sinodehuis se personeel werk tans almal van die huis af. Kontakbesonderhede is op ons webwerf www.sinoos.co.za beskikbaar.

Gemeentes se kerkkantore kan met groot vrymoedigheid die personeel van die Sinodehuis kontak om advies, raad, hulp, ondersteuning – ons help graag.

Kyk mooi na hierdie Familienuus se “kop.” Dit is nommer 400! Sedert 2003 is Familienuus ons twee-weeklikse kommunikasie na gemeentes. Oor die jare het die formaat en uitleg effe gewysig. Ook die inhoud is plek-plek opgekikker. Maar steeds bly dit ‘n voorreg om op jou rekenaar/tablet/selfoon te kom inloer. Die Familienuus is ‘n spanpoging van al die personeellede in die Sinodehuis. Dankie dat ons by jou kan kom kuier…

 

BESOEKE AAN ONS RINGE

Ons bevestig net weer dat die Sinodale Diensraad se besoeke aan die ringe eers uitgestel moes word. Hierdie Pizza-kuier-byeenkomste is ‘n baie hoë prioriteit vir ons as leiers. Dit is vir ons baie belangrik om naby aan ons leraars en leiers in gemeentes te kom in ‘n tyd waar ons nie ons normale vergaderings kan hou nie. Ons vertrou regtig dat ons mekaar in die nuwe kwartaal rondom ‘n pizza sal kan sien.

Ons is baie oortuig dat ons leraars in hierdie dae mekaar se bemoedigende teenwoordigheid nodig het. ‘n Versoek aan al ons Ringe: tref ‘n paar vinnige reëlings waardeur julle reël dat elke kollega in die Ring deur iemand gebel word om te hoor hoe dit gaan. Dis so maklik soos dit. Die effek daarvan sal oneindig groter wees as wat ons dink moontlik is.

 

LERAARS

Frans Steenkamp het Sondag 27 Junie sy afskeidspreek by Witbank-Suid gelewer.

Izak Liebenberg emeriteer op 4 Julie by Meyerspark.

Nati Stander maak klaar by Witrivier aan die einde van die maand en vertrek dan na George-Bergsig.

André de Villiers van Kathu/Olifantshoek is na Valleisig beroep.

Anandie Greyling is as leraar by Pierre van Ryneveld bevestig.

Nicky Hattingh van Sanddrift het nie die beroep na Meyerspark aangeneem nie.

Ons het verlede week verneem van die afsterwe van Frans Els. Frans was vir baie jare as sendeling in diens van die Ring van Ermelo en het die groter gebied rondom Chrissiesmeer en verder bedien. Daar staan talle kerkgeboutjies wat onder sy leiding opgerig is. Ons meelewing aan sy eggenote, San.

 

POPI-WETGEWING

Hier is ‘n kort skrywe vanaf Andrew Kok, die kerk se argivaris. Julle weet nou reeds dat die sperdatums nie deur die staat gehaal kon word nie. Belangrik: die wet tree steeds in werking – julle moet dus besig raak met die implementering daarvan – al is die staat se administrasie nie in plek nie.

“Wanneer landsburgers besluit om die regering wel te gehoorsaam,
kan die regering se stelsels dit merendeels nie hanteer nie.” (Anoniem)

 

Landwyd gons dit die afgelope paar weke oor die implementering van POPIA-wetgewing in kerkkantore. Inligtingsbeamptes is aangestel, ’n  aanvang is geneem in die saamstel van POPIA-handleidings en almal probeer meer verstaan waaroor POPIA gaan. Die afgelope week het baie kerkkantoorpersoneel met groot moeite probeer om te registreer as inligtingsbeamptes in terme van die POPIA-wetgewing. Die groot druk op die registrasiestelsel het egter veroorsaak dat die registrasies nie kon plaasvind nie en dit het tot groot frustrasie by gebruikers gelei. Die Inligtingsreguleerder het so pas aangekondig dat daar nie nou registreer hoef te word nie, maar dat nuwe datums later gekommunikeer sal word. Dit haal gelukkig nou baie druk af van die stelsel.

 

Kerkkantore moet egter asb daarop let dat die Wet wel op 1 Julie 2021 in werking tree en daar moet so spoedig moontlik aan die agt vereistes wat die wet stel voldoen word. Kerkkantore moet toesien dat die volgende so spoedig moontlik gedoen word:

  • Die voltooiing van u POPIA-handleiding (sien https://www.kerkargief.co.za/inligtingswet/#popia )
  • Bewusmaking van POPIA onder u personeel en kerkraad. (VBO-kursus en Winkerk-kursusse is beskikbaar)
  • Aanpas van u nuwe intrekkervorms
  • Bevestiging deur bestaande lidmate dat hul data gebruik mag word.
  • Indien u ’n  webblad het, die nodige skakels na u handleiding en proses om navraag te doen, daarop aanbring.

 

 

Notas:

 

  1. Elke gemeente moet seker maak dat die vorm wat hulle vir nuwe intrekkers gee, ‘n verklaring bevat dat die lidmaat toestemming gee dat die inligting geprosesseer kan word.
  2. Hoe gemaak met bestaande lidmate? Die kerkraad moet ‘n proses ontwerp en begin waardeur bestaande lidmate geleentheid kan hê om aan te dui dat hulle dieselfde toestemming as in (1) hierbo gee. Julle gaan die proses nie binne ‘n paar weke afgehandel hê nie –  die wet verwag dit ook nie. Julle moet wel kan aantoon hoe julle besig is om uitvoering aan die wet te gee.

 

 

 

ONS WEBWERF

 

Onthou asseblief om die inligting op ons webwerf te benut www.sinoos.co.za

 

PEPUDA

Hierdie voorgestelde wetgewing maak opslae. Ons heg hier ‘n berig uit Kerkbode aan oor verskillende maniere om hierop kommentaar te lewer.

Ongelukkig het hierdie sake ‘n manier om eers op die nippertjie in die openbare kerklike domein te beland. Nou moet ons vinnig reageer. Aanduidings is dat die petisie-pad nie noodwendig die mees suksesvolle pad nie. Volgens ons Algemene Sekretaris word ‘n petisie met baie handtekeninge daarop as maar net een dokument gesien.

Iewers sal ons moet gesels op watter wyse die kerk deur sy gemeentes en lidmate beter insette kan lewer in sake soos hierdie. Ons sal die lede van parlementêre komitees moet help met insette wat op ‘n verantwoordelike manier ‘n verskil kan maak. Dit gaan beteken dat leraars op plaaslike vlak ‘n studie moet maak van ‘n bepaalde saak, gesprekke met lidmate daaroor moet hê en eie unieke dokumente opstel. Die dae van een gesagvolle dokument deur die Algemene Sinode opgestel met ‘n klomp handtekeninge daarop, is skynbaar verby. Dieselfde geld vir enige instansie wat op hierdie wyse beswaar aanteken.

 

PRODUKTE en TOERUSTING

Ons Missionale Kerkwees-span vertel van ‘n toerustingsgeleentheid gelei deur Nelus Niemandt. Let op: die zoom-skakel in die advertensie is “lewend” – dit is jou toegang tot hierdie gesprek.

“Die verleentheid van die e-woord” vra die vraag oor hoe evangelisasie in vandag se dae behoort te lyk! Hier is verdere inligting wat ons ontvang het.

CMR Gauteng-Oos het vir ons nuus gestuur.

 

Bybel-Media het nuus oor vakansie-lekkerspeel-Bybelprodukte vir kleuters. Hulle nuusbrief word ook aangeheg.

 

Excelsus vertel van die sertifikaatkursusse vir Bedieningsontwikkeling en Bedieningsvernuwing.

Ons het nuus ontvang oor 2021 se Excelsus  Lentekonferensie

Wentzel Coetzer se kursus oor die sesde fase van die rouproses bestudeer die boek van David Kessler Finding Meaning.

Petrus Moolman bied saam met Communitas ‘n gesprek aan oor Meaningful Ageing.

Ons hoor deesdae al meer oor Brugbediening. ‘n Kursus hieroor sal jou toerus en oplei.

Lentekonferesnie 2021

VERJAARSDAE

 

PREDIKANTE

2 Julie – Erik Immelman, Midrand (Halfweghuis)
7 Julie – Thinus Prinsloo, Carolina
9 Julie – Gawie Malan, Pretoria-Oosterlig
9 Julie – Izak Liebenberg, Meyerspark
13 Julie – Henk Janse van Rensburg, Pierre van Ryneveld
14 Julie – Zander van der Westhuizen, Tygerpoort
20 Julie – Cornelis Oberholster, Pierre van Ryneveld
20 Julie – Francois Schwalb, Laeveld
24 Julie – Danie Veldsman, Dosent UP
26 Julie – Anton Badenhorst, Pretoria-Oosterlig

EMERITI

30 Junie – Gerrie Doyer, Witrivier 2016
4 Julie – Manie Crouse, Malelane 2002
6 Julie – Bertie Driescher, Kemptonpark-Suurfontein 2000
11 Julie – JP Pienaar, Amsterdam 2014
13 Julie – Sampie Niemand, Pierre van Ryneveld 2012
14 Julie – Adriaan van der Wart, Valleisig 2003
14 Julie – Phillip Venter, Skuilkrans-Pretoria 1995
16 Julie – Christo Longland, Goedgegun-Swaziland 2001

GEMEENTES

30 Junie – Silvertonkruin (46)
1 Julie – Elarduspark (46)
24 Julie – Badplaas (48)
25 Julie – Debruinpark-Ermelo (48)

 

 

 

Francois Retief
Uitvoerende Amptenaar
uitamp@sinoos.co.za