Ons Sinodale Diensraad vertel…

1.  By die afgelope vergadering van die Sinodale Diensraad het ons van die 11 lede terugvoer ontvang oor wat tans aan die gang is in ons sinodale gebied. Ons het diep onder die indruk gekom van die spanning wat die grondonteienings-kwessie by ons mense bring en ook van die oproer en grondgrype in Witrivier, Burgersfort en Pretoria-Faerie Glen. Hiermee saam is daar onrus en opstandigheid oor wye dele van ons gebied. Ons besef die impak van werkloosheid en die ekonomiese krisis met 'n rand wat trampolien-spring en onstabiliteit wat 'n negatiewe gees in mense wakker maak. Dis juis in só 'n tyd dat die kerk hoop moet bring en mense moet bystaan en help om in geloof positief te bly. “Wees ons genadig, Here, ons vestig ons hoop op U. Die Here is ons Regter, ons Leidsman, ons Koning , Hy sal ons red.” Jesaja 33.

2.  Daar is kennis geneem van die gevaar van sekularisasie wat besig is om by kerke in te kruip en veroorsaak dat Bybelse grense verskuif word totdat dit naderhand die mens se eie wil is wat geld en nie meer God se wil is nie. Dit bring mee dat gelowiges nie meer die teenwoordigheid en krag van God se teenwoordigheid beleef nie.

3.  Daar is tog ook positiewe getuienisse juis in hierdie tyd soos byvoorbeeld samewerking tussen die NG Kerk Lynnwoodrif en die Nellmapius Uniting Reformed Church in Southern Africa.

4.  Die vergadering het die beplanning vir ons komende Sinodesitting van 21-23 Oktober 2018 gefinaliseer en daar heers reeds groot opgewondenheid en 'n verwagting vir wat die Here gaan kom doen. Ons glo die Here gaan ons as sinode kom help om waarlik 'n gestuurde kerk te wees wat 'n impak maak en die liefde van Christus uitleef en uitdra in die wêreld. Ons sien uit na die rol van die fasiliteerders soos prof. Marius Nel, Nelis J van Rensburg, Dewyk Ungerer asook van ons eie sinode se leiers wat 'n rol gaan speel. Bid saam met ons dat elke sinodeganger huis toe sal gaan met 'n nuwe visie, passie en inspirasie om 'n verskil in hulle gemeentes te gaan maak.

5.  Ons is ook dankbaar vir 'n nuwe fokus op ons jonger predikante en om groter prominensie aan ons gebied se jeug te gee. Daar is 'n mooi momentum aan die gang by die jonger leraars wat GrensLoos-netwerk gestig het om mekaar se hande te vat en die jeugwerk in ons gebied te belyn en te koördineer. Ons wil steeds as oud en jonk na mekaar luister en mekaar intrek en saamwerk.

6.  Kom ons bly bid steeds vir mekaar, vir ons gemeentes en vir ons land.Kom ons bid ook dat die leraars sal sterk staan teen versoekings en voorbeelde en getuies wees vir ander.

 

Dirkie van der Spuy
15 Augustus 2018